
Afdwing van Engels duur voort by US, MRK loods ondersoek
- 29 Maart 2021
StudentePlein verwelkom die aankondiging deur die Menseregtekomissie (“MRK”) dat hulle klagtes oor die afdwing van Engels in Matie-koshuise gaan ondersoek. Aldus hulle verklaring, het die MRK ʼn aantal klagtes ontvang waarin daar beweer word dat studente aan die Universiteit van Stellenbosch (“US”) verhinder word om in ander tale as Engels te kommunikeer. Die klagtes wat ontvang is, het spesifiek betrekking op die gebruik van Afrikaans. Die Kommissie wil nou die omvang van hierdie vermeende verbod verstaan.
Intussen het StudentePlein vandag verneem dat studenteleiers van die koshuisgemeenskap Minerva steeds onversetlik jeens meertaligheid optree. ʼn Klagte van ʼn lid, en die aangehegde boodskap van Minerva leierskap, dui daarop dat Minerva as vereiste gestel het dat koshuise hulle Molasse-sêr (a capella sangoptrede in groepverband) net in Engels mag opvoer:
“1. Please only sing songs that are in English 2. Please try to refrain from any songs that promote an uncomfortable narrative of heteronormativity (like no going on your knees to say that we are the best women for your men etc).”
StudentePlein se mandaat dek nie die tweede punt hierbo nie. Wat die eerste punt betref, is dit uiters teleurstellend en kommerwekkend dat die Minerva-koshuisleierskap onversetlik is rakende hul onregmatige afdwing van Engels in koshuisgemeenskappe.
“Dit dui op ʼn totale en selfs moedswillige wanbegrip van ʼn meertalige, diverse benadering tot gemeenskapsbou op kampus. Dit kan regstreeks aan ʼn tekort aan taal-sensitiewe opleiding onder koshuisleiers toegeskryf word. Boonop is dit ʼn noodwendige uitvloeisel van ʼn taalbedeling wat nie meertaligheid proaktief en konkreet vier nie, en wat ook nie volgens die bykans-identiese konseptaalbeleid 2021 tot uitvoer gebring word nie,” lui ʼn verklaring van StudentePlein.
StudentePlein herinner die universiteitsadministrasie aan hul verantwoordelikheid om hul koshuisleiers, as funksionarisse in ʼn geweldige magsposisie oor junior studente, in toom te hou wat hierdie soveelste taalskande betref.
StudentePlein beaam ook dat ʼn nonchalante houding oor hierdie voorvalle nie die publiek of StudentePlein se beswaar sal stil nie.
“Verwysings na die bepalings van die taalbeleid om die besware van studente oor die Slegs Engels-diktaat te probeer weg verduidelik, is blykbaar die US-bestuur se amptelike benadering tot hierdie skandalige voorvalle. Selfs die Rektor, prof. Wim de Villiers, het na hierdie benadering in die Rapport van 28 Maart, tydens kruisondervraging deur ʼn joernalis, gegryp.”
StudentePlein meen dat die US se reaksie op die onlangse taalskandes sowel ongeloofwaardig as logies onhoudbaar is. “Bloot omdat ʼn beleid ʼn bepaalde reël of norm neerlê, is daar geen waarborg dat dit altyd in die praktyk gereflekteer sal word nie. Die toeloop van getuienis dat Engels afgeforseer word, is ʼn onteenseglike feit. Die universiteitsbestuur moet nie dink dat die publiek blind hiervoor is en hierdie halfhartige verduidelikings sal aanvaar nie.”