Kristan Kraak
Afrikaans en die Khoisantale het uiteindelik hul regmatige sitplek om die “taaltafel” geëis. Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Dr Blade Nzimande het hierdie regsmening ingewin na aansienlike druk van Dr Leon Schreiber van die DA om dit ook só in sy taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings te weerspieël. Dit beteken dat Nzimande die taalbeleidsraamwerk wat die eerste Januarie in werking getree het, sal aanpas om Afrikaans en die Khoisantale die erkenning te gee wat dié tale toekom.
Dr Schreiber het op 11 Mei oor hierdie historiese oomblik vir taalregte en die beskerming van kulturele- en taaldiversiteit getweet. Hy meen dat hulle daarin geslaag het om Nzimande se departement te oorreed dat hul klassifikasie van Afrikaans as ’n uitheemse taal nie in lyn is met die Grondwet nie. Dit kan as ’n belangrike mylpaal vir die taal beskou word nadat Afrikaans as onderrigtaal ongeveer vyf jaar gelede afgeskaf is. Nzimande het gou van mening verander oor die inheemse status van die betrokke tale toe die DA ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien, wat hom gedwing het om ’n regsmening rakende die kwessie openbaar te maak. Nzimande het hierdie einste aansoek aanvanklik in Januarie geweier. Talle platforms soos Netwerk24, die Volksblad, Times Live, TheSouthAfrican.com, Maroela Media en AfriForum vier hierdie oorwinning.
Vir die Afrikaanssprekende student beteken dit dat die keuse van ’n onderrigtaal – wat die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid skynbaar steeds in teorie bied maar nie in praktyk nie – uiteindelik ’n realiteit kan wees. Dit is ’n stap in die regte rigting om aan Afrikaanssprekende studente se behoeftes te voldoen.
Bronne: https://twitter.com/search?q=leon%20schreiber&src=typed_query https://www.vfplus.org.za/media-releases/oorwinning-vir-afrikaans-as-taal-van-hor-onderwys-onus-is-nou-op-afrikaanssprekendes