Eduan Naudé
Die eerbare President Matamela Cyril Ramaphosa van die Republiek van Suid-Afrika
Op die aand van 15 Februarie 2018 by die Tuynhuys in Kaapstad het u die volgende eed afgelê: “In die teenwoordigheid van almal hier vergader en in die volle besef van die hoë roeping wat ek as waarnemende president van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar, sweer ek, Matamela Cyril Ramaphosa, plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika, dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, onderhou en handhaaf; en belowe ek plegtig en opreg dat ek te alle tye:
- sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad;
- die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder;
- my pligte met al my kragte en talente na my beste kennis en vermoë en getrou aan die stem van my gewete sal verrig;
- aan almal reg sal laat geskied; en
- my aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy.”
’n Jaar later op 25 Mei 2019 het u weer die eed in ’n volgepakte Loftus-Versfeld stadion in Pretoria afgelê, nie as waarnemende president nie, maar as president van die Republiek van Suid Afrika. Op dié dag het u ’n inhuldigingstoespraak gelewer waar u dikwels na ’n verenigde Suid-Afrika verwys het.
Ongelukkig staan die nuwe wetsontwerp oor skole se taalbeleid teenstrydig met u beloftes.
Die departement van basiese onderwys wil staatskole van hul mag ontneem om self hul taal- en toelatingsbeleid te kies en wil dié gesag aan die provinsiale regering oorhandig. Die provinsiale regering sal die onderrigtaal van skole op grond van die algemeenste taal in hul onderskeie provinsies bepaal.
Die nuwe wetsontwerp is skadelik vir ons Grondwet en is direk teenstrydig met die beloftes wat u tydens die beëdiging gemaak het.
Onder die Eerste Hoofstuk van die Grondwet, Grondliggende Bepalings se sesde punt (Tale) staan daar: “(1) Die amptelike tale van die Republiek is Sepedi, Suid-Sotho, Tswana, Swati, Venda, Tsonga, Afrikaans, Engels, Ndebele, Xhosa en Zulu.”
’n Bietjie verder af onder punt ses by die sesde deel staan daar: “(4) Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.”
Deur die algemeenste taal van ’n gebied as die taal van onderrig aan te wys, sal daar teen die ander tien amptelike tale – wat nie “algemeen” in die gebied voorkom nie – gediskrimineer word.
In Hoofstuk twee van die Grondwet, die Handves van Regte, staan daar onder reg 9 (Gelykheid): “(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte nie.”
Die nuwe wetsontwerp sal ’n risiko bied vir onbillike diskriminasie op grond van taal en sosiale herkoms.
Verder onder reg 16 (Vryheid van Uitdrukking): “(1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is:
- die vryheid van die pers en ander media;
- die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
- die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
- akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.”
Die voorgestelde wet sal dus óók inbraak maak op Suid-Afrikaners se reg tot uitdrukking, veral die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra, die reg tot vryheid van artistieke kreatiwiteit en die reg tot akademiese vryheid.
Daar is al ’n menige kere bewys dat leerlinge beter op skool vaar as hulle in hul moedertaal onderrig ontvang, maar wat gebeur as ’n Venda-leerling in ’n isiZulu gebied gebore word en daar bly? Sal die leerling se gesin hul trotse Venda-herkoms moet prysgee om seker te maak hul kind vaar goed op skool, of moet hulle hul kind oor die lengte van die Republiek stuur om in ’n “Venda-gebied” skool te gaan?
Onder punt 30 (Taal en Kultuur) staan daar: “Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem.”
Die voorgestelde stelsel sal veroorsaak dat leerlinge nie ten volle aan hul taal en kultuur kan deelneem nie, want hulle kan moontlik die minderheid in ’n gegewe gebied wees.
Punt 31 van die Grondwet (Kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe) sluit by die bogenoemde punt aan: “ (1) Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap:
- hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en
- kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.”
Die wet sal veroorsaak dat leerlinge nie saam met hul eie portuur kan grootword en skool gaan nie en dus nie deel vorm van hul ware taal- en kultuurgemeenskap nie.
Meneer President, die nuwe wetsontwerp kan ook veroorsaak dat daar definitiewe taalgebiede regoor Suid Afrika ontwikkel. Die land sal in 11 gebiede geskeur word, soortgelyk aan wat die Groepsgebiedewet van die 1950’s gedoen het in die vorming van die tuisland-stelsel. Die filosoof George Santayana het gesê: “ Diegene wat nie die verlede onthou nie is gevonnis om dit te herhaal.”
U voorganger, Oudpresident Nelson Mandela, het die volgende waarskuwing gerig: “If the ANC does to you what the Apartheid government did to you, then you must do to the ANC what you did to the Apartheid government.”