Kristan Kraak
Feesgangers by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees was geskok toe ’n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar voor honderde gehoorlede kwytraak dat hul kind in Engels skoolgaan en skaars Afrikaans kan praat, maar “ten minste gaan hy eendag ’n werk kry”. Hierdie einste kunstenaar dien as ’n rolmodel vir die Afrikaanssprekende gemeenskap weens hul uitmuntende artistieke bydrae tot die Afrikaanse kunste. Dit is “onskuldige” aanmerkings van hierdie aard wat die indruk skep dat “Afrikaanssprekend” nie sinoniem met “suksesvol” kan wees nie. Dit is juis figure van hierdie klas in die Afrikaanse kunste wat dié skadelike stereotipes rakende onderrig in Afrikaans moet breek. Dit is die ingesteldheid wat Afrikaanssprekende leerders oorreed dat hulle nie hul Afrikaansheid in die loopbaan van hul drome kan uitleef nie.
Instellings soos die Universiteit Stellenbosch (US) stook hierdie vuur met hul doelbewuste uitsluiting van Afrikaans as onderrigtaal. Dit breinspoel die jong volwassene met die idee dat jy nêrens kan kom met jou moedertaal nie – tensy jou moedertaal Engels is, natuurlik. Dit is die algemene gevoel onder US-studente dat hulle van ’n nagraadse loopbaan in Afrikaans kan vergeet weens die afwatering van dié taal as onderrigtaal en die afwesigheid van Afrikaanse studiemateriaal in veral nagraadse modules. Kanja van der Merwe is egter een van die individue wat hierdie stereotipe breek.
Kanja verwerf haar BA in Taal en Kultuur, Honneursgraad in Vertaling en Meestersgraad in Vertaling cum laude aan die US. Kanja noem dat haar voorgraadse modules al hoe meer verengels het, maar dat sy haar Honneurs tweetalig in Afrikaans en Engels kon voltooi omdat dit ’n kursus vir vertaling en redigering in Afrikaans en Engels is. Dit is toe dat sy akademies begin uitblink, want sy ontvang die prys vir Beste Student en Beste Honneurswerkstuk. Daarna is daar vir haar ’n ruim beurs aangebied om haar meesterstesis in Afrikaans te skryf. Die Departement van Afrikaans en Nederlands spog dat haar tesis, “’n Ondersoek na pedagogiese tolking vir Afrikaanstweedetaalverwerwing: ’n Gevallestudie met US-studente,” die eerste sodanige studie in Afrikaans is. “Ek sal enigeen aanraai om hul tesis in Afrikaans te skryf”, sê sy, “die voordele en geleenthede daaraan verbonde is eindeloos – dit is nuutskeppend, stimulerend en uitdagend”. Kanja noem ook dat sy onlangs internasionaal vir haar werk in Afrikaans vereer is. Sy het aansoek gedoen om ’n referaat van haar tesis by ’n kongres in Oostenryk te lewer, en is nie net na bewering die enigste persoon van haar departement wat gekeur is nie, maar sy ontvang ook 1000€ prysgeld om die kongres as ’n Afrika-navorser suid van die Sahara by te woon. Die twee keurders lê spesifiek klem op haar bevordering van Afrikaans in hul terugvoer: “I am really happy to see research for Afrikaans” en “It is nice to see a focus on a language like Afrikaans, which is underrepresented in the literature”. Kanja vertel dat sy werklik dankbaar is vir al die geleenthede wat al oor haar pad gekom het, so ook haar werk by StudentePlein. “Ek hoop my ervaring kan ander moedertaalsprekers van Afrikaans aanmoedig om in Afrikaans te studeer”, sê sy, “in jou stryd met ons universiteit is dit dalk nie tans ooglopend nie, maar jy sal nog die plaaslike én internasionale waarde en voordele van tersiêre onderrig in jou moedertaal geniet – en StudentePlein sal jou help om in die pylvlak te kom”.
Dit is duidelik dat baanbrekerwerk in Afrikaans verrig kan word. StudentePlein beoog om mylpale soos hierdie een vir jou moontlik te maak. Met uitstekende kantoorpersoneel en betrokke direksielede sal ons jou studies aan die Universiteit Stellenbosch so kommervry moontlik maak. Is dit jou gevoel dat jy die beste kwaliteit onderrig in jou moedertaal gaan ontvang? Dan bemoedig ons jou: Studeer in Afrikaans. Ons is hier om jou gedurende jou studiereis te ondersteun.
Word vandag ’n lid om alle StudentePlein voordele gratis te ontvang: Notas en handboeke in Afrikaans van verskeie modules, uitnodigings na gereelde sosiale funksies, blootstelling aan kulturele geleenthede soos debat, toegang tot ’n studieruimte, wifi, krag (selfs as Eskom ons faal!), ens. Registreer by: https://studenteplein.co.za/registrasie/