Covid se invloed op studente se geestesgesondheid
Gita Fourie
Universiteitsjare is vir enige iemand, onder normale omstandighede, ’n uitdagende tydperk. Asof hierdie oorgangsjare na volwassenheid nie stresvol genoeg is nie, het ons die afgelope twee jaar met ’n bykomende stressor gesit: COVID.
’n Blog oor Covid? Rêrig? Het ons nie genoeg artikels, Instagram posts, tweets en vreemde Whatsapp-broadcasts (sorry, warm suurlemoenwater gaan jou níé oornag genees nie) oor hierdie ding gelees nie? Die Covid-19-pandemie het ’n reuse, blywende impak op ons lewens gehad en ons het nog lank nie klaar van dit gehoor nie. Ons moet die impak erken wat hierdie pandemie op almal van ons gehad het; nie net fisies en finansieel nie, maar ook emosioneel. Ek wil amper sê dis die belangrikste nou. Terwyl die ekonomie besig is om stadig maar seker te herstel, moet ons in ag neem dat ons psige ongelukkig nie dieselfde werk nie.
Jou geestesgesondheid sluit jou emosionele, sielkundige en sosiale welstand in. Dit beïnvloed ons denke, gevoelens en optrede (ja, basically jou hele lewe). Daar is verskeie faktore wat tot jou geestesgesondheid kan bydra, soos ’n chemiese wanbalans in jou brein, oorerflikheid of ’n traumatiese gebeurtenis (bv. ’n wêreldpandemie).
Suid-Afrika het die agste hoogste selfdoodsyfer in die wêreld met ’n gemiddeld van 8 000 mense wat jaarliks hul lewe neem. Selfdood is die derde grootste oorsaak van onnatuurlike sterfte in die land. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) het in 2020 amper dubbeld soveel oproepe op sy krisishulplyn ontvang as in 2019. Hierdie statistiek maak dit duidelik dat universiteite bedag moet wees op die geestesgesondheid van studente post Covid. Die emosionele impak van Covid en als wat daarmee saamgegaan het, het nóú eers ’n hoogtepunt bereik.
Jongmense loop oor die algemeen minder gevaar vir ernstige simptome van die virus, maar hul lewens is steeds aansienlik ontwrig en daarmee ook hul geestesgesondheid. Die Covid-19-pandemie het ons almal in stresvolle en oorweldigende situasies by tye geplaas. Ons moes spanning, isolasie en eensaamheid verduur. Dit is normaal dat dit gevoelens van hartseer, woede, vrees en frustrasie kon meebring. Hierdie sterk emosies kan weer jou energievlakke, eetlus, slaapvermoë, belangstellings en konsentrasie negatief beïnvloed wat weer op sy tyd fisiese simptome soos hoofpyn, veluitslag, maagprobleme en hartkloppings kan veroorsaak. Dis ’n vicious siklus en die lys kan nog baie langer raak.
Geestesversteurings, soos angs en depressie, het ’n invloed op alle fasette van ons lewe: jou verhoudings met familie en vriende, stokperdjies en akademie. As jy jou emosionele welstand op die backseat gaan sit, gaan jy kort voor lank die kar omgooi. Geen mens kan optimaal funksioneer as hul geestesgesondheid daaronder ly nie. Begin hierdie jaar reg en priotiseer jou gesondheid.
Die groot probleem met geestesversteurings is dat dit nie soos ander siektes hanteer word nie. Daar is ’n stigma verbonde hieraan dat jy jouself net kan “reg ruk” en “positief wees”. Dit maak mense onwillig om uit te reik na ander en professionele hulp te kry. Laat ek jou nou sê: Jy’s nie mal nie; jy’s nie lui nie en dis definitief nie als net in jou kop nie. Moenie laat enige iemand jou vertel dat green tea en vanilla scented kersies by Woolworths al jou probleme gaan oplos nie. Dis hierdie tipe stigmatisering en vals inligting wat niemand help nie.
As jy voel jou geestesgesondheid gaan agteruit, hanteer dit soos jy enige ander siekte sal hanteer. As jy verkoue het, lê jy in die bed en drink medikasie – geestesversteurings werk presies dieselfde. Jy moet jouself tyd gee om te rus en, indien nodig, moet jy die regte medikasie in die hande kry.
Hier is ’n bietjie raad wat ek al oor die jare gekry het wat actually gewerk het:
- Dwing jouself om tyd buite te spandeer en vriende te sien,
- Identifiseer ’n vertroueling,
- Moenie hartseer musiek luister as jy klaar hartseer is nie (jy’s nie in ’n fliek nie) en
- SKEDULEER JOU BREAKDOWNS.
Laasgenoemde het ’n dosent eendag vir my gesê – dis goed om elke nou en dan so bietjie te huil; dit maak die tenke leeg.
Hier is ’n paar noodnommers wat jy kan skakel:
- Universiteit Stellenbosch CSCD (Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling): 021 808 4994 (Stellenbosch kampus) en 021 938 9590 (Tygerberg kampus) of stuur ’n e-pos na supportus@sun.ac.za
- CSCD 24 uur-Noodnommer: 010 205 3032
- Suid-Afrikaanse Depressie-en Angsgroep: 0800 12 13 14
- Lifeline South Africa: 0861 322 322
- South Africa Suicide Crisis Helpline: 0800 21 22 23
- Adcock Ingram Depression and Anxiety Helpline: 0800 70 80 90