Gita Fourie
Die Afrikaanse radio- en TV-aanbieder Heindrich Wyngaard en die burgerregte-organisasie AfriForum het aangekondig dat hulle ’n nuwe Kaapse burgerlike organisasie, die Kaapse Forum, gestig het. Wyngaard laat vaar sy loopbaan as RSG-omroeper en TV-aanbieder (van Verslag op kykNET) wanneer hy vanaf vandag, 4 April, voltyds die pos as uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum beklee. Volgens Wyngaard lê die fokus van die Kaapse Forum by die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en die vestiging van groeiende federalisme in die Wes-Kaap en Kaapse gemeenskappe. “Ons het ’n regruk-revolusie nodig in ons bruin gemeenskap,” sê Wyngaard. “Vir jare al skryf en praat ek oor die uitdagings van bruin mense. Hierdie skuif bied die geleentheid om my hande vuil te maak en gemeenskappe se uitdagings aan te pak.” “Die Kaapse Forum wil met die vestiging van sterk, selfstandige gemeenskappe fokus op ’n selfhelp-ingesteldheid om onder meer armoede te help bekamp, gemeenskapsekonomieë uit te bou, veiligheid te verseker en goed funksionerende gemeenskappe daar te stel,” lui ’n gesamentlike verklaring van Wyngaard en Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum. Die slagspreuk van die Kaapse Forum weerspieël dié selfhelp-ingesteldheid: Plaas die Kaap se toekoms in Kaapse hande. Wyngaard verduidelik dat daar internasionaal voorbeelde van lande is waar jy federale stelsels het en waar provinsies of gemeenskappe ’n hele klomp van daardie funksies reeds onder hulle eie beheer het. Wyngaard wil tesame met die Kaapse Forum kyk hoe dit binne die Suid-Afrikaanse konteks moontlik gemaak kan word. Die Kaapse Forum streef daarna om met die uitbreiding van federalisme toe te sien dat besluitnemingsmagte oor onder meer polisiëring, openbare vervoer,
elektrisiteitsvoorsiening, water, visserye en die strafregstelsel vanaf die nasionale regering na die Wes-Kaapse provinsie, munisipaliteite en plaaslike gemeenskappe afgewentel word. Belastingsfederalisme, waar belastingbetalers se geld grootliks plaaslik aangewend word, sal ook ’n kerndeel van die Kaapse Forum se plan van aksie vorm. Wyngaard sien uit na sy rol om ’n positiewe verskil in die Wes-Kaapse gemeenskappe te maak. “Ons wil die belangrikheid vir gemeenskappe beklemtoon dat hulle mag aanspraak maak op groter magte en dat hulle ’n groter rol kan speel in die dienste waar die nasionale of provinsiale regering hulle in die steek laat,” sê Wyngaard. AfriForum se bestuurs-, administratiewe en kommunikasiestelsels, asook sy regspan, sal nog vir tyd en wyl die Kaapse Forum rugsteun totdat dié nuwe organisasie op sy eie bene kan staan. Kriel verduidelik dat AfriForum se betrokkenheid ten doel het om gesonde vennootskappe op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen Afrikaners en die talle ander kultuurgemeenskappe in die land te help vestig. Volgens Wyngaard is die Kaapse Forum nie uitsluitlik ’n bruin organisasie nie, maar verteenwoordig al die gemeenskappe in die Wes-Kaap met ’n positiewe vooroordeel na die meerderheidsgemeenskap. Die Kaapse Forum sal as ’n onafhanklike maatskappy sonder winsoogmerk buite die partypolitiek funksioneer.
Bronne: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/radio-en-tv-aanbieder-afriforum-stig-nuwe-kaapse-burgerlike-organisasie/ https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/politiek/bruin-mense-kry-hul-eie-afriforum-20220403