Kristan Kraak
Drie religieuse vakansiedae wat vernuwing vier, het oor die naweek van die 15de April oorvleuel, naamlik die Joodse pasga, die Christelike Paasfees en Ramadan vir die Islam-geloof. Dit is ’n gebeurtenis wat slegs elke 30 jaar plaasvind.
Ten spyte van die rusie in Frankryk omtrent die verbod van die hijab en die Stram Kurs-groep in Swede wat dreig om die Quran te verbrand, sien verskeie Moslems die afgelope paar dae se reën by die Kabba in Mekka as ’n seëning en ’n teken van hoop. Alle getroue Moslems en dié wat natuurlik kan, vertrek ten minste een keer in hul leeftyd op ’n pelgrimstog na Mekka om al hul sondes weg te was. Hulle glo dat hul gebede of “duas” beslis gehoor word wanneer dit reën, meen Kasheefa Kela, ’n Moslem student aan die Universiteit Stellenbosch.
In die Wes-Kaap se Kaapse Maleise gemeenskap staan Ramadan as Labarang bekend. Hierdie gemeenskap het ’n betekenisvolle bydrae tot die oorsprong van Afrikaans gemaak. Die eerste Afrikaanse tekste was in die Arabiese alfabet gedruk en hierdie dokumente kom uit die ou koloniale slawekwartiere, vandag bekend as die Bo-Kaap. Professor Hein Willemse aan die Universiteit van Pretoria meen dat hierdie dokumente die oudste Afrikaanse dialek is. Hy verduidelik verder dat dit wys dat Afrikaans nie die geskiedenis van slegs een groep mense is nie. Die slawe-gemeenskap van Suid-Oos Asië het ’n groot invloed op die taal gehad, tesame met die Engelse, Duitse en inheemse groepe. Die imams (Moslemleiers in moskees) van die Bo-Kaap het Afrikaans reeds in die 1820’s in Arabiese skrif geskryf. Hy skryf verder dat Afrikaans vele woorde afkomstig uit Suid-Oos Asië bevat, wat in die mond van die Kapenaar omvorm is – dit is aangepas en vorm vandag deel van Afrikaans.
Honderde Moslems kom op die laaste aand van Ramadan in Kaapstad bymekaar om die maan te aanskou. Die gebeurtenis betrek mense van alle vlakke van die samelewing en elkeen bring iets te ete saam om met ander Moslems tydens die breek van die vas te deel.
Aan al ons Moslem lede en lesers: Dit is nie lank voor dit gaan voel of julle Ramadan mis nie; of julle verlang na hierdie tyd van vernuwing nie. Mag dit julle bemoedig om die hede te geniet. Mag dit julle bemoedig om die geleentheid te waardeer. Dit was vir vele ander Moslems regoor die wêreld nie beskore nie.
Wanneer Allah duas ontvang, mag joune in die duisendes wees. Die StudentePlein-span wens al ons Moslem lede en lesers ’n geseënde Labarang toe. Eid Mubarak.
Bron: https://www.iol.co.za/capeargus/news/arabic-roots-of-afrikaans-laid-bare-in-new-book-18631473
https://gondwana-collection.com/blog/did-you-know-the-first-afrikaans-text-was-written-in-arabic