Kristan Kraak
Vername spotprenttekenaar, Fred Mouton, het Woensdagmiddag op die ouderdom van 75 gesterf nadat kanker in 2018 by hom gediagnoseer is. Mouton het oor ’n tydperk van 52 jaar ongeveer 10 000 spotprente vir Die Burger, Landbouweekblad, Weg!, WegRy&Sleep en Huisgenoot geteken.
Mouton word geken aan sy hoogs ontwikkelde insigte in die hart, psige en humorsin van veral die Afrikaanse gemeenskap. Bun Booyens, oudredakteur van Die Burger en vriend van Mouton, eer hom as die invloedrykste politieke joernalistieke stem in visuele taal “met ’n kurkdroë sin vir humor”.
Mouton was een van die drie voltydse spotprentkunstenaars by Die Burger sedert die ontstaan van die koerant in 1915. Daniel Boonzaier was die eerste, gevolg deur Honiball. In 1972 sluit Mouton by Honiball aan en in 1976 neem hy uiteindelik oor as hoof-spotprenttekenaar en het dié pos sedertdien beklee. Hy is verskeie male gedurende sy loopbaan vereer. In 1983 ontvang hy die Standard Bank Spotprenttekenaar van die Jaar-toekenning en in 2000 die PJ Cillie-medalje vir Kreatiwiteit in Joernalisme. Hy ontvang ook ’n spesiale oorkonde van die ATKV in 2011 en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie in 2021. Mouton het drie versamelings van sy werke gepubliseer, die mees onlangse een in 2009 genaamd “Van Zuma tot Zille”. Sy werk pronk ook onder die land se beste in “The Year in Cartoons” se 2009- en 2010-uitgawe.
Die Wes-Kaapse regering meen dat sy sosiale kommentaar op politieke gebeurtenisse dui op sy verstandigheid en noukeurige waarneming van die land se gebeurtenisse. Die redakteur van die Burger, Willem Jordaan, stel dit perfek: “Fred was ’n reus.”
Mouton word oorleef deur sy vrou, drie kinders en twee kleinkinders. Die StudentePlein-span wil graag ons innige simpatie en medelye met sy gesin en naasbestaandes deel. Mag sy naam in sy werke voortleef.
Bronne: https://www.westerncape.gov.za/news/western-cape-government-mourns-passing-fred-mouton http://africartoons.com/cartoonist/fred-mouton https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/spotprentkunstenaar-fred-mouton-sterf/ https://www.netwerk24.com/netwerk24/Nuus/Aktueel/geliefde-spotprenttekenaar-sterf-20220504-2