StudentePlein word vroeg in 2020 tot stand gebring deur drie studente wat op daardie stadium aan die Universiteit van Stellenbosch studies afhandel. Die stigterslede kom tot die gevolgtrekking dat die Unviersiteit Stellenbosch, heel in pas met ander universiteite landswyd, toenemend verander in ‘n Anglo-Amerikaanse wêrelduniversiteit wat sy rol teenoor naasliggende gemeenskappe versaak. Van studiegeleenthede in Afrikaans is daar maar min oor, terwyl maghebbers ‘n tipe inklusiwiteit verabsoluteer wat sosiale en kulturele interaksies deur die bank reduseer tot ‘n Engelstalige gemene deler. Vele mede-studente se akademiese loopbane ly skipbreuk met die uitfasering van parallelmedium en meegaande skielike aanpassing in ‘n betreklik vreemde opvoedingsmedium. Heelparty ander is teneergedruk oor die karakterverlies van Maties, wat vinnig in die volksmond Stellies begin heet.
Met ‘n ideaal om weer vir die Afrikaanse student ‘n tuiste te bied en ‘n skenking van R100,000 van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, word groot vordering in die eerste bestaansjaar gemaak om basiese aanlyn-infrastruktuur op te rig en die nodige menslike kapitaal op vrywilliger-basis te werf. Die eerste lede begin stelselmatig aanklop vir studiehulp in Afrikaans, en die behoefte ontstaan vinnig vir alternatiewe sosiale en kulturele geleenthede. Geleidelik word dit duidelik dat StudentePlein ‘n fisiese teenwoordigheid in Stellenbosch moet bekom, en word kantoorspasie opgeneem in Huis Lucy (in 1814 gebou om as ’n koetshuis te dien, en ongeveer ’n eeu later die eerste dameskoshuis van Universiteit Stellenbosch).
Die StudentePlein-ideaal moes vanuit die staanspoor wyer strek as om bloot ‘n studentevereniging op Stellenbosch te wees wat onderworpe is aan dieselfde strukturele probleme wat die organisasie wou aanspreek. StudentePlein is daarom geposisioneer buite bestaande raamwerke, en bestaan privaat en onafhanklik op die grondslag van ‘n self-ontwikkelde metakampus-model waarby die Afrikaanse student vanuit enige omgewing kan inskakel.
Vandag groei StudentePlein aansienlik met behulp van wydverspreide welwillendheid van sakelui, trustfondse, professionele persone en ander vanuit die Afrikaanse gemeenskap. Sub-verenigings ontstaan en word op relatief gedesentraliseerde wyses bedryf onder StudentePlein, ten einde ook die waardeaanbod vir die Afrikaanse student op verskeie terreine te verskerp. Die mees vername dryfkrag bly ‘n groeiende gros Afrikaanse studente wat by StudentePlein aansluit nie net om te neem nie, maar ook om te gee.