StudentePlein is bewus van die risiko dat die Universiteit Stellenbosch (US) die hofuitspraak in die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof mag beroep as regverdiging vir ad hoc afwykings van die taalbeleid vorentoe. Terwyl daar volgens StudentePlein gronde vir appèl is en dit oorweeg word, sal slegs hofprosesse nie die kort- en mediumtermyn taalwelstand van ons lede genoegsaam aanspreek nie.
Daarom stel StudentePlein vandag ʼn proaktiewe Taalverantwoordbaarheidstrategie bekend, waarvolgens StudentePlein se aktiewe voetpersoneel en verteenwoordigers op kampus deurlopend inligting sal versamel van hoe en waar die US se voorgenome meertalige bestel asook hul breër verpligtinge teenoor naasliggende gemeenskappe misken word. Waar Afrikaans as institusionele taal nie opgebou en aangeprys word nie, maar verdaggemaak en verdring word deur die optrede van gewone amptenare en studenteleiers, sal StudentePlein telkens ferm optree.
StudentePlein sal die US oor elke voorval en selfs die geringste voorval van taaloorheersing deur Engelstaligheid ten koste van lewenskragtige Afrikaans op kampus en meertaligheid, tot verantwoording roep. Dit geld vir elke bestuursvlak van die US as instelling, van die Raad en die Rektoraat tot die eenvoudigste koshuisamptenaar.
Wanneer ons nie betekenisvolle reaksie kry nie en daar gronde daarvoor bestaan, sal StudentePlein nie skroom om ons op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting te beroep om inligting oor gestaafde beweringe van voorvalle te verkry nie. Verder sal ons voor elke moontlike en korrekte geregsforum ter wille van ons lede optree wanneer daar selfs individuele voorvalle van taalmiskennings voorkom.
Volgehoue druk op die US bly belangrik vir so lank dit nodig is terwyl alternatiewe instellings deur StudentePlein en ander opgerig word. Ons bou deurlopend kapasiteit om ʼn florerende Afrikaanse metakampus ter wille van ons lede uit te bou. Dit word met alle ywer gedryf, sodat ons op ons eie benadering vir ons lede en alle Afrikaanse studente groeiende toegang tot gehalte Afrikaanse leermateriaal, kultuurgeleenthede en netwerkgeleenthede kan bied.