
SP oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak
- 15 September 2022
StudentePlein oorweeg verdere regstappe, insluitend appèl, na ‘n uitspraak vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof waarin die hof bevind het dat die Universiteit Stellenbosch (‘US’) nie onregmatig opgetree het toe daar in 2020 en 2021 met Afrikaanse leermateriaal weggedoen is nie.
StudentePlein hou vol dat die US nie hul taalbeleid gevolg het toe daar op universiteitswyebasis in 2020 en 2021 met Afrikaanse leermateriaal weggedoen is nie. Die US het ook tydens die hofverrigtinge erken dat hul nie hul beleid gevolg het nie.
Die hof se bevinding in die US se guns berus hoofsaaklik op wat “redelikerwys prakties” sou wees in die konteks van die US se verpligtinge as dit by fakulteite se taalimplementeringsplanne kom — ‘n punt wat deur nie een van die partye in die saak geopper is nie. Die bevinding rondom wat rederlikerwys prakties sou wees, maak die hof op sterkte van ‘n klousule in die taalbeleid wat nie ‘n onderwerp van die geskil was nie. Dit wil dus voorkom of die hof se uitspraak nie berus op die geskil wat werklik voor die hof was nie. Vir hierdie redes oorweeg StudentePlein nou verdere appèlopsies.
Die hofuitspraak vandag lê ook klem op die gedagte dat Afrikaanse studente wel Engels verstaan. Uit ervaring weet StudentePlein dat hoewel dit waar mag wees dat die meeste Afrikaanse studente Engels kan verstaan, dit hoegenaamd nie waar is in die konteks van akademiese Engels op tersiêre vlak nie. ‘n Groot gros StudentePlein-lede klop by ons aan vir akademiese hulp, juis omdat hulle nie akademiese Engels kan baasraak nie. Vandaar ook StudentePlein se belang in hierdie hofsaak.
Vandag se uitspraak neem nie weg van die onverskilligheid jeens Afrikaans wat die US voor die hof geopenbaar het nie. Trouens skets die US in hul hofstukke ‘n prentjie dat Afrikaans ‘n onbelangrike sy-kwessie is. Die Afrikaanse gemeenskap se geduld met die US se hantering van Afrikaans is uitgeput, en dit noop die omliggende Afrikaanse gemeenskap, insluitend StudentePlein, om alternatiewe Afrikaanse akademiese instellings op die been te bring.
Alhoewel die US duidelik ontevrede is met die kritiek teen hulle oor die afskaffing van Afrikaans, behoort die US eerder werklik bekommerd te wees die dag wat daar nie meer sodanige druk op die US uitgeoefen word nie. Dit sou daarop dui dat die Afrikaanse gemeenskap finaal by die US onttrek het, en inderdaad aanbeweeg het om hul kinders se toekoms in nuwe instellings te plaas.