SP verwelkom verslag van MRK wat US skuldig bevind aan ernstige skendings van taalregte
- 15 Maart 2023
StudentePlein verwelkom die verslag van die Menseregtekomissie (MRK) vanoggend gepubliseer, waarin bevind word dat die US in 2021 onbillik inbreuk gemaak het op Afrikaanse studente se regte en vryhede, met inbegrip van vryheid van uitdrukking, taal en kultuur, gelykheid en menswaardigheid.
Ons sal nou ernstige stappe doen aan die hand van die MRK-verslag om die US streng verantwoordbaar te hou vir die vyandiggesindheid teenoor Afrikaans, Afrikaanse studente en veeltalige omgewings by die universiteit.
Die US implementeer ‘n beleid in koshuise waarvolgens studente forseer word om slegs Engels te praat, selfs in informele sosiale ruimtes waar almal teenwoordig Afrikaans is en verplig verwelkomingsleiers om slegs Engels met nuwe studente te praat en selfs voor te gee dat hulle nie Afrikaans kan verstaan nie.
Die MRK se bevindinge strook met bewerings wat StudentePlein vroeg in 2021 gemaak het aan die hand van getuienis van ons lede, dat Afrikaanse studente in koshuise by die US verplig word om slegs Engels te praat. Die MRK-verslag bevestig voorts dat bewyse daarop dui dat daar ‘n sterk moontlikheid bestaan dat ‘n anti-Afrikaanse omgewing by die US gemanifesteer het, en dat vyandigheid teenoor Afrikaanse studente ook volgens sommige getuies in lesingsale manifesteer.
StudentePlein spreek waardering uit teenoor lede van StudentePlein wat die MRK bygestaan het in hul ondersoek en onderneem om nou ernstige opvolgstappe te doen sodat ‘n herhaling van die vergrype ten alle koste vermy word. Ons sal hierdie week verdere onthullings en eedsverklarings publiseer wat daarop wys dat selfs nog meer ernstige vergrype as in 2021, vanjaar in US-koshuise herhaal is en ‘n klagte by die US-ombud daaroor indien in ‘n poging om interne remedies eers by die US uit te put. Indien die Ombud se kantoor nie effektiewe regstellende stappe teweeg kan bring nie sal StudentePlein, ook aan die hand van die MRK se ondubbelsinnige bevindings vandag, die kwessie eskaleer tot ‘n regsgeding.