StudentePlein bedien inligtingsversoek op US en loods nuwe verantwoordbaarheidstrategie
- 29 September 2022
StudentePlein het vandag, as deel van ons nuwe verantwoordbaarheidstrategie ‘n inligtingsversoek, kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), op die Universiteit Stellenbosch (US) bedien. Die versoek vorm deel van ‘n nuwe verantwoordbaarheidstrategie in Stellenbosch, om verdere verengelsing stop te sit en Afrikaanse studente se regte en geleenthede te beskerm.
As deel van die inligtingsversoek, vra StudentePlein vir notules van US-vergaderings in 2022 waar belangrike besluite vermoedelik geneem is oor onder andere taalimplementering, en die verdere verwatering van Afrikaans as akademiese taal. Ons verantwoordbaarheidstrategie bepaal dat ons voor elke moontlike en korrekte geregsforum ter wille van ons lede en Afrikaanse studente sal optree, om verengelsing en taalmiskennings te stop.
Inligting wat deur StudentePlein-lede vanuit verskeie fakulteite voorsien word, dui daarop dat fakulteite hoegenaamd nie erns maak met die plig om ook Afrikaans tydens lesings te gebruik nie. Howel daar sporadies uitsonderings is, is leer en onderrig by die US in wese slegs Engels.
StudentePlein is ‘n organisasie en studentenetwerk waar Afrikaans as akademiese taal, in teenstelling met by die US, groei en uitgebou word. Ons skerm vir bestaande geleenthede in Afrikaans, en bou terselfdertyd privaatoplossings uit soos nodig. Hofsake, inligtingsversoeke en ander regsaksies is nie ‘n volledige antwoord op die verlies aan Afrikaans in Stellenbosch nie, maar StudentePlein sal onverpoosd aanhou daarmee solank ons lede en ander in Afrikaans wil studeer en die US hulle op welke wyse ookal verhinder om dit te doen.
Die US moet, kragtens die bepalings van PAIA, teen 28 Oktober op StudentePlein se inligtingsversoek antwoord.
Medianavrae:
Albertus Liebenberg
albertus@studenteplein.co.za