StudentePlein-debatspan doen dit wéér vir ‘n tweede keer
- 28 September 2024
StudentePlein seëvier vir die tweede agtereenvolgende jaar in landswye Dink of Sink- onvoorbereide universiteitsdebatkompetisie
‘n StudentePlein debatspan het by AfriForum se jaarlikse Dink of Sink-onvoorbereide debatkompetisie vir universiteitstudente, met die louere weggestap. Na ‘n intense woordestryd en intellektuele kragmeting in die finale rondte van die kompetisie, het StudentePlein die span van die Noordwes Universiteit gewen. Wat hierdie prestasie besonders maak, is die feit dat dit n rug-aan-rug oorwinning vir StudentePlein is.
Verskeie interne uitdunrondtes is landswyd gedurende die jaar gehou. Dagbreek Manskoshuis van die Universiteit van Stellenbosch, het StudentePlein genader om ook húlle debatspan die geleentheid te bied om deel te neem. Beide die
StudentePlein span en die Dagbreek span het die finale rondte op Saterdag 28 September 2024 by Akademia se Leriba-kampus in Centurion bygewoon. Altesaam 16 finaliste van Akademia, Noordwes-Universiteit (NWU) en StudentePlein het teen mekaar in ses uitdundebatte meegeding.
Voor die finale rondte het die StudentePlein span met 20 punte voorgeloop, maar volgens kompetisie-reëls, verval hierdie punte vir die laaste rondte. Die beoordelaars het StudentePlein geprys vir die positiewe transformasie wat die sprekers vanaf die eerste tot die laaste debat ondergaan het. “Ons het nege ure debat in een dag gepraat wat baie uitdagend was. Ek is baie trots op die span en dit wat ons bereik het,” het Neelsie van Dyk van die StudentePlein span gesê.
StudentePlein se span het as oorwinnaars weggestap en NWU as naaswenners. Righardt Pretorius, Neelsie van Dyk, Ignus Ferreira en Wian van Rooyen het StudentePlein verteenwoordig.
Die Dagbreek span wat ook StudentePlein se naam hoog gehou het, was Andrè Venter, Wikus Bornman, lgnus van Deventer en Gerhard van Wyk. Die naaswenners, NWU se span, het bestaan uit Pietie Vogel, Jaco Mulder, Estiaan Vorster en Johan Jordaan.
“Die studente het waarlik hulle staal gewys by dié kompetisie, met goed geformuleerde argumente, selfvertroue en goeie debatvaardighede. Dit is ongelooflik wat hierdie studente kon vermag met slegs ‘n uur se voorbereidingstyd tot hulle beskikking. Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die toewyding wat die universiteitstudente toon in hul oefening,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.
StudentePlein sal volhou om die leemte in Afrikaanse debatgeleenthede in Stellenbosch aan te vul. Ons is werklik trots op ons debatspanne en hoop om hierdie prestasie by die volgende Dink of Sink vol te hou.