
StudentePlein gaan sterk optree teen afdwinging van Engels in Matie-koshuise
- 8 Maart 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein neem kennis van klagtes van ons lede dat inwoners van sekere koshuise verbied word om Afrikaans te praat, selfs in informele ruimtes waar daar slegs Afrikaanssprekende studente teenwoordig is.
StudentePlein verteenwoordig studente in sowat agt fakulteite en verskeie koshuise en leefruimtes, en het ten doel om Afrikaanse studente hoofsaaklik met studies in Afrikaans by te staan. Die huidige uitfasering en verbanning van Afrikaans selfs in informele leefruimtes is aldus StudentePlein ‘n verskerping van die totale verengelsing van die US, waartoe die US se taalbeleid homself leen en soos dit deur beleidstoepassers aangemoedig word.
“Tot dusver het die US ‘n formalistiese ingesteldheid rondom hierdie kwessie openbaar, waarvolgens vereis word dat eerstejaarstudente op hierdie vroeë stadium van hul verwelkoming hulself moet blootstel en klagtes oor taaluitsluiting moet gaan lê. Hierdie formalistiese ingesteldheid strook glad nie met die deernis en sensitiwiteit waarmee die US in 2015 taalkwessies aangespreek het toe sommige studente beweer het dat hulle deur Afrikaans uitgesluit word nie”, sê Tian Alberts, voorsitter van StudentePlein.
“Die feit van die saak, of die US dit wil erken of nie, is dat van ons lede reeds klagtes ingevolge klousule 8 van die Taalbeleid ingedien het dat hulle nie Afrikaans in informele ruimtes mag gebruik nie en selfs gedreig is dat hulle daaroor uit die program geskop sal word. Ons sal hierdie prosesse monitor en na gelang daarvan verdere opsies oorweeg. Die realiteit is dat die verbanning van Afrikaans, selfs in informele leefruimtes, nie deur die taalbeleid verbied word nie. Trouens, die US sal kan argumenteer dat hierdie insidente juis deur die taalbeleid onderskryf word omdat inklusiwiteit nie andersins uitvoerbaar sou wees nie. Ons nooi die US-bestuur uit om met erns na die uitwerking van die taalbeleid in praktyk te kyk. Dit is vreemd dat die US-bestuur nou agter formele prosesse skuil eerder as om konsulterend en self-ondersoekend om te gaan,” lui die verklaring verder.
StudentePlein dring daarop aan dat die US se strukture meer kreatief met die konsep van inklusiwiteit omgaan sodat dit nie op die standaardisering na slegs Engelse omgewings neerkom nie.
“Alhoewel die insidente van die afgelope week kommerwekkend en kru uitsluitend is, sal die belangrikste toets vir die US se oënskynlike verbintenis tot veeltaligheid wees of Afrikaanse studente met die aanvang van klasse volgende week volkome onderrig in Afrikaans sal ontvang”, sluit die verklaring af.
StudentePlein moedig Afrikaanse US-studente wat nog nie lede is nie aan om te registreer by https://www.studenteplein.co.za/registreer en klagtes aan te meld by https://studenteplein.co.za/klagtes