
StudentePlein gereed om hof te nader oor US se weerhouding van inligting
- 3 Junie 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein is gereed om die Hooggeregshof in Kaapstad te nader met ‘n aansoek om die Universiteit van Stellenbosch (US) te verplig om belangrike rekords oor taalimplementering en taalbeleid aan StudentePlein te oorhandig. Dit volg nadat StudentePlein reeds op 26 Maart ‘n versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (WBTI) by die US ingedien het, en die US op 26 Mei ‘n dossier met onvolledige en gesensoreerde rekords voorsien het. StudentePlein het die US nou tot 10 Junie gegee om die volledige rekords te oorhandig, by welke versuim sal StudentePlein die Hooggeregshof nader met ‘n aansoek om die US te verplig.
Dié rekords wat versoek word, bevat notules van vergaderings en rekords van besprekings by die US waar Afrikaans as akademiese taal verder afgeskaal en selfs afgeskaf is. Die rekords wat wel deur die US aan StudentePlein voorsien is, blok egter groot dele van die notules en ook die besluitnemers se name uit.
“StudentePlein en die Afrikaanssprekende gemeenskap in die algemeen is daarop geregtig om te weet watter besluite oor veral die afskaffing van Afrikaans by die US geneem word, en of daardie besluite behoorlik na nodige oorleg en debat geneem is. Dit is onaanvaarbaar dat die US, ‘n openbare instelling, groot dele van daardie besluite, die konteks rondom dit en die name van besluitnemers sensureer,” lui ‘n verklaring van StudentePlein.
StudentePlein eis ook die redes waarom ‘n beëdigde verklaring wat die US voorsien het, daarop dui dat daar geen versoeke of voorstelle van fakulteite bestaan dat die Senaat vroeër vanjaar weens Covid-19 verwante druk die besluit moes neem om van die Taalbeleid af te wyk nie. Vroeër vanjaar het die Uitvoerende Komitee van die Senaat die besluit geneem dat Afrikaans in die eerste semester in eerstejaarmodules afgeskaf moet word, skynbaar omdat fakulteite dit voorgestel het.
“Dit is onbegryplik dat die US in ‘n mediaverklaring, nogal getitel ‘…hier is die feite’, sou beweer dat die ‘besluit’ om Afrikaans in eerstejaarmodules af te skaf deur fakulteite voorgestel is, terwyl daar nou onder eed bevestig is dat daar geen sodanige voorstelle of versoeke oor die afgelope jaar op rekord is nie. Dit word vererger deur die feit dat dit uit die US se beëdigde verklaring aan StudentePlein verder afgelei kan word dat daar nie ‘n notule van die Senaatsvergadering bestaan waar die ‘besluit’ geneem is nie, alternatiewelik dat die US nou swyg oor die bestaan daarvan.”
“Die US beweer dat hulle in die belang van deursigtigheid en verantwoordbaarheid optree. Waarom dan inligting wat in elk geval vir die publiek beskikbaar behoort te wees weerhou, en selektief sensureer waar dit aangevra word? Tensy spesifieke uitsluitingsgronde van toepassing is, het die US nie die reg om namens lede van die publiek te besluit op watter dele van rekord hulle geregtig is nie.
StudentePlein betreur die feit dat ‘n studenteorganisasie hulpbronne wat andersins vir akademiese hulp aangewend kon word, moet bestee om die US te dwing om ‘n kultuur van geheimhouding in die belang van studente en die breër publiek te laat vaar.
“StudentePlein sal enige wettige optrede wat nodig is, neem om te verseker dat ons lede die nodige inligting tot hul beskikking het oor veral daardie besluite wat tans hulle akademiese welvarendheid belemmer.”