StudentePlein-kantoor bied die ideale studieruimte
- 23 Julie 2024
Aanbod vir gerieflike studieruimte neem toe in gewildheid
Ons uitnodiging was daar en die StudentePlein-lede het entoesiasties reageer. Dit is eksamentyd in Matieland en daar is ‘n welkome teenwoordigheid van studente by ons kantoor in die Lutzgebou. Hierdie groot aanvraag na ons goed toegeruste studieruimte is te verstane, teen die agtergrond van die gerieflike werksmilieu wat ons skep vir ons lede.
Ons kantoor is sentraal geleë op kampus – slegs ‘n vyf minute stappie vanaf die Neelsie. Die StudentePlein kantoor het vier werkareas en die konferensielokaal waarin ses persone met gemak kan studeer, is toegerus met tegnologie wat die ywerige student handig te pas kom: ‘n televisie, ‘n witbord; WiFi om hoëspoed-internettoegang te verskaf, asook ononderbroke kragtoevoer gedurende beurtkrag. Benewens bogenoemde intellektuele ondersteuning vir die “gees”, bied ons ook ‘n waardevolle hupstoot vir die “vlees”. Lede kan vir hulle ‘n lekker koppie koffie of tee in ons kombuisarea maak. Daar is ook ‘n mikrogolfoond tot ons lede se beskikking en selfs ‘n paar peuselhappies vir breinkrag.
Die aanvraag na studieruimte het in so ‘n mate toegeneem, dat StudentePlein in die proses is om ‘n meer uitgebreide besprekingstelsel in plek te stel as die huidige e-pos-besprekingsmetode, waardeur lede hulle plekkie kan verseker. Ons StudentePlein-kantoor is bo en behalwe ‘n studie-area, ook ‘n bymekaarkom plek vir moed inpraat en saam skouer aan die wiel sit.