
StudentePlein laat sosiale Afrikaans herleef op Stellenbosch
- 28 April 2024
Vier sosiale geleenthede in die laaste maande deur StudentePlein aangebied, laat behoefte aan sosiale Afrikaans in Stellenbosch weer opvlam
Die leemte op Stellenbosch
Gedwonge “inklusiwiteit” en slegs-Engelse sosiale omgewings by koshuise en kampusgeleenthede het geforseerde, onnatuurlike sosiale geleenthede en koshuislewe by Stellenbosch tot gevolg gehad. Afrikaans is selfs in sommige ruimtes verbied.
LEES: StudentePlein speel kritieke rol in MRK-verslag oor taalvergrype by Maties
Hoewel StudentePlein van mening is dat Afrikaanse studente nie slegs met ander Afrikaanse studente moet bande smee nie, hoort daar bepaald ruimtes waar Afrikaanse studente gemaklik en sonder voorbehoud in Afrikaans kan sosialiseer. Die meeste Afrikaanse studente het ook ‘n behoefte aan Afrikaanse sosialisering, terwyl hulle reeds blootstelling geniet aan ruimtes waar daar met studente van ‘n verskeidenheid taalgroepe gesosialiseer word. Matie-gesagstrukture dwing egter die een ideaal ter uitsluiting van die ander af. “Skakels” het in “socials” verander en Afrikaans het, veral tydens die verwelkomingsweke, taboe geword. Soos die MRK-verslag van 2023 bevestig, het ‘n vyandigheidheid teen bloot Afrikaans-praat by Maties posgevat. StudentePlein se antwoord is nie bloot om hom daarteen te verset nie, maar hoofsaaklik om nuwe geleenthede te skep wat sonder toestemming van die Matie-owerhede kan plaasvind. Sodanige geleenthede word al sedert 2021 deur StudentePlein op kleinskaal aangebied. ‘n Nuwe fase is in 2023 betree met die aanbied van Opskop! Sokkie, ‘n eksperimentele fase vir die uitrol van groot sosiale geleenthede. Opskop! Sokkie was ‘n sukses en het die behoefte aan Afrikaanse sosiale ruimtes herbevestig.
Opskop! Sokkie – 27 Julie 2023
Op 27 Julie 2023 het meer as 300 studente hulle opwagting gemaak by StudentePlein se eerste groot Afrikaanse sokkie-geleentheid. Die geleentheid, in samewerking met Buffelsfontein, het in die Stellenbosch-stadsaal plaasgevind. Studente het vir ure aaneen gekuier, gelag, gesels en gedans. Gaste is boonop bederf met ‘n vertoning deur Tino – ‘n nuwe Afrikaanse sangsensasie van Zimbabwe afkomstig en inwoner van die Helderberg-manskoshuis. Tino se Afrikaanse trefferliedjies pryk op talle Top10-trefferparades en daar is heerlik gesokkie en saamgesing met liedjies soos “Dans in jou Taal”, “Transkaroo”, “Sterrekind” en nog vele meer.


“Die sokkie was absoluut amazing gewees. Van die instap met die “check” van kaartjies tot en met die laaste liedjie. Dit was ongelooflik lekker om weer vir ‘n slag só iets te beleef! Baie dankie aan julle span vir al die reëlings, ek sien uit na wat voorlê! 🤩”
@Braam8
“Ek was al by ‘n handvol sokkies in Stellies maar hierdie een was definitief een om te onthou. Daar was ‘n wonderlike atmosfeer. Ek gaan verseker StudentePlein se blad volg en deel word van die organisasie vir die volgende geleentheid om dit weer te ervaar.”
@Jano_bezuidenhout2020




‘n Tweede Opskop! Sokkie – 12 Februarie 2024
Teen die agtergrond van ‘n voortreflike sokkie-aand in die Stellenbosch Stadsaal in 2023 het StudentePlein op 12 Februarie 2024 ‘n terugkeer gemaak vir rondte twee. Dié keer op die skilderagtige wynplaas, La Boucher van Kwagga en Marica Boucher, teen die hange van die Bottelary-heuwels.

Die prag-bymekaarkomplek, wat gratis aan StudentePlein beskikbaar gestel is, was behoorlik volgepak met sokkie-entoesiaste. Studente het die aand terdeë geniet met ‘n glasie wyn, uitstekende klank en beligting deur Lightex, ‘n platejoggie en nuwe plaaslike Afrikaanse talent soos Victoriastraat, die nuwe musiek duo van Gerhard Maré en Bernice Swartz, asook Schwabie, of te wel Leon Schwab. Sodoende kon StudentePlein ook opkomende Afrikaanse kunstenaars in die kollig stel.
Die sokkie was ‘n geleentheid waar studente kon saamkom om spontaniteit met kultuurassosiasie te vier en bande met mede-Afrikaanse studente te verstewig. Dit sou nie verbaas as ‘n paar liefdesverhale aan die geleentheid toegeskryf kan word nie.




‘n Sportiewe sosiale geleentheid: StudentePlein Padel
Op 23 Januarie 2024 het StudentePlein ons eerste sporttoernooi vir 2024 aangebied. StudentePlein Padel het by AfricaPadel se Van der Stel-klub plaasgevind en gesorg vir ‘n ordentlik bygewoonde sport-sosiale kombinasie in Afrikaans.

StudentePlein se Padel-toernooi was daarop gemik om ‘n impak te maak op die onderskeie studentekoshuise se leierskorps. Die doel was om aan hulle bekend te maak wie StudentePlein is, waarvoor ons ons beywer en wat ons doen. Verskeie koshuise, onder andere Dagbreek, Eendrag, Helderberg en Nerina, het saam met StudentePlein die aand geniet en kort voor lank het een van die vier bespreekte Padel-bane in ‘n dansbaan verander. Met lekker koue drankies het ons die warm somersaand afgekoel terwyl bande gesmee is. Daar is gespeel, gekuier, gesokkie en gelag – in Afrikaans.
Positiewe terugvoer het ná die tyd ingestroom en verskeie koshuise het StudentePlein genader met versoeke om saam met hulle soortgelyke byeenkomste aan te pak.
“StudentePlein se bemarkingsstrategie, om in studentekoshuise betrokke te raak, het vrugte afgewerp. Ek glo hier gaan ons ‘n nuwe groeifase beleef,” sê Chris Briel, organiseeerder van sosiale projekte by StudentePlein. Briel meen dat sodanige aktiwiteite nodig is in ‘n tyd waar Afrikaans onderdruk word – nie net in akademiese instellings nie, maar ook daar waar studente woon – in koshuise, eetsale, kamers en gange.




Vlugbal in samewerking met Helderberg-manskoshuis
Die suksesvolle Padel-toernooi het die weg gebaan vir ‘n genotvolle vlugbal-toernooi op 2 Maart 2024, by Helderberg Manskoshuis.
Die Republiek Van Helderberg, soos hulle ook bekendstaan, hou jaarliks hulle Repfees op hulle koshuisgronde, ter herinnering aan 67 jaar gelede toe dié koshuis tot “Republiek” verklaar is. Die Repfees gaan gewoonlik gepaard met allerhande lekker-doen-dinge soos byvoorbeeld winkeltrollie wedrenne, toutrek-, potjiekos-kompetisies en vlugbal toernooie. Ten opsigte van laasgenoemde het Helderberg en StudentePlein hande gevat. Hiermee het StudentePlein koshuisbande gebou en versterk, ten einde onsself bekend te stel aan studente, veral die nuwelinge op kampus. Dit bevestig die kumulatiewe inwaartse impak wat StudentePlein se sosiale geleenthede inwaarts op die kultuur van Matie-koshuise kan maak.


Verskeie dameskoshuise het deelgeneem en in die eindstryd was dit Irene en Sonop wat dit moes uitspook vir die wenprys wat StudentePlein geborg het: ‘n bederfpakkie van Isa Carstens vir elke wenspanlid. ‘n Oorstelpte Sonop-span het ons bedank vir die groot pryse en dat ons die dag moontlik gemaak het. Met lekker Afrikaanse musiek, iets kouds vir die droeë kele en eg Afrikaanse gasvryheid het StudentePlein bygedra tot ‘n goeie dag vir die vlugbalspelers en studente.
Verskeie ander sosiale geleenthede word verder in 2024 in die vooruitsig gestel.


