
StudentePlein loods eie aanlynleerplatform, LeerPlein
- 19 September 2023
Lede van StudentePlein wat by tersiêre opvoedingsinstellings landswyd studeer, kan nou op LeerPlein kan inskakel – StudentePlein se eie aanlynleerplatform vir Afrikaanse studente. LeerPlein is ‘n pasgemaakte oplossing vir StudentePlein ontwikkel, en word bedryf deur ‘n hoogs gesofistikeerde leerderbestuurstelsel wat deur nagenoeg ‘n kwart van die wêreld se voorste tweehonderd universiteite gebruik word. StudentePlein se strewe na hierdie uitstekende gehalte demonstreer dat wêreldgehalte oplossings ook ingespan kan word om plaaslike gemeenskappe te dien en nie meestal andersom nie, soos by staatsuniversiteite die geval is nie.
LeerPlein is nou die aangewese aanlynplatform vir StudentePlein-lede (meestal ingeskrewe studente by Universiteit Stellenbosch maar toenemend ook elders), waarop hulle in Afrikaans studiehulp by StudentePlein-tutors kan ontvang, idees en Afrikaanse studienotas kan uitruil en meer. Hierdie aktiwiteite kan plaasvind ongeag die mate waartoe die universiteite, waar lede primêr ingeskakel is, verengels het. Dit is ‘n opperse vergestalting van ons metakampus-model, wat daarop toegespits is om Afrikaanse metagemeenskappe bo-op verengelsde universiteitskampusse te fasiliteer en kweek.
“Metakampus”, ‘n oorspronklike StudentePlein-model, is nie te verwar met virtuele aanlyngemeenskappe soos Facebook-platforms (deesdae bekend as Meta) nie. ‘n Metakampus is eerder outonome fisiese bymekaarkomplekke rondom bestaande kampusse uitgebou, gerugsteun deur aanlyninfrastruktuur wat aanvullende en alternatiewe leer- en onderrig (in hierdie geval in Afrikaans) kostedoeltreffend en effektief aanbied. Die kombinasie van fisiese- en aanlynbymekaarkomplekke laat ‘n metagemeenskap toe om buite die perke van ‘n verengelsde en dikwels kultuurvaal staatsuniversiteit te beweeg. Lede kan aanvullende oplossings aan te gryp wat deur die gemeenskap self uitgebou word. Meer konkreet gestel loop StudentePlein-lede klas by instellings soos Maties en woon sosiale funksies daar by, maar draai na StudentePlein se metakampus om dit in Afrikaans te kan doen binne ‘n gedeelde belange-netwerk. LeerPlein maak die aanbied van sowel aanvullende as alternatiewe Afrikaanse akademiese materiaal en geleenthede baie meer vaartbelyn, sekuur en skaalbaar.
StudentePlein-lede kan nou deur middel van LeerPlein:
- Toegang verkry tot Afrikaanse studiemateriaal om slegs of meestal Engele klasse by hul universiteite te oorbrug (tans beskikbaar t.o.v. nege vakgebiede en meer as 60 modules)
- Addisionele Afrikaanse studiemateriaal aankoop en verkoop (markplek vir Afrikaanse studiehulpbronne)
- Toegang verkry tot Afrikaanse tutordienste en blitskursusse ter voorbereiding vir eksaminering
- Afrikaanse tutorklasse aanbied (onderhewig aan gehaltebeheer) en ekstra inkomste verdien
LeerPlein en ander StudentePlein-platforms word op ‘n nie-winsgewende grondslag bedryf en kweek gemeenskapsbetrokkenheid sodat Afrikaanse studente, akademici en andere betrokke kan raak om gehalte Afrikaanse geleenthede te ontvang, in stand te hou en te laat groei. Ons voorsien dat LeerPlein landswyd die aangewese aanlynbymekaarkomplek vir Afrikaanse studiehulp sal word vir studente wat by verengelsde universiteite, by uitstek Stellenbosch Universiteit, in Afrikaans wil studeer maar verhoed word om dit te doen. LeerPlein sal egter ook volwaardige Afrikaanse studie-instellings wat mettertyd deur StudentePlein op die been gebring word, ondersteun.
Diegene wat wil help om LeerPlein en ons ander platforms te befonds kan dit hier doen.
Afrikaanse studente kan hier gratis by LeerPlein inskakel.