
StudentePlein ondersoek beweringe van voortslepende verbod op Afrikaans in US-koshuise
- 8 Februarie 2022
StudentePlein ondersoek nuwe beweringe dat studente in koshuise by die Universiteit van Stellenbosch (US) aangesê word om slegs in Engels met mekaar te kommunikeer tydens die 2022-verwelkomingsprogram.
StudentePlein is in besit van beëdigde verklarings van verskeie studente wat die verbod op die gebruik van Afrikaans in US-koshuise verlede jaar dokumenteer.
Teen hierdie agtergrond van onregmatige en ongrondwetlike taalpraktyke by ’n openbare universiteit, sal StudentePlein sonder enige uitstel ferm optrede teen die US van stapel stuur, sou dit aan die lig kom dat studente weereens aangesê word om slegs in Engels te kommunikeer.
StudentePlein en die DA is reeds in ’n hofstryd met die US gewikkel oor die onregmatige afskaffing van Afrikaans by die US oor die laaste twee jaar ten opsigte van die beskikbaarheid van nuwe leermateriaal. Die US het aangedui dat hulle teen 11 Februarie antwoordende eedsverklarings sal liasseer, waarna die hofstukke gefinaliseer sal word en die saak spoedig op die rol geplaas sal word. StudentePlein en die DA vra, onder andere, dat die US gelas word om hul eie Taalbeleid te volg. Hierdie bevel word verlang sodat daar van die minimale voorsiening wat vir Afrikaanse studente kragtens die Taalbeleid gemaak word, in praktyk te reg kan kom.
Studente en lede van die publiek kan taalklagtes stuur na admin@studenteplein.co.za
Lees hier meer oor StudentePlein se hofsaak teen die US.