
StudentePlein reageer op Khampepe-verslag by US, kondig stappe aan
- 9 November 2022
Admin
Bevindinge oor Afrikaans is ongeloofwaardig en lê buite mandaat van kommissie
StudentePlein neem kennis van die verslag van die Khampepe-kommissie (‘kommissie’) wat aan studente by die US en die publiek uitgereik is na ‘n ondersoek na beweerde rassisme by die Universiteit Stellenbosch (‘US’). Dit blyk nou vir die eerste keer, anders as wat voorheen voorgehou is, dat een van die sleuteloogmerke van die Kommissie was om bevindinge oor Afrikaans te maak. Daar word meer as ‘n honderd keer in die kommissie se verslag na spesifiek Afrikaans verwys, wat die indruk wek dat die kommissie ongevraagd of selfs opsetlik Afrikaans oor die boeg van rassisme probeer gooi.
StudentePlein oorweeg nou regs- en ander stappe (meer daaroor hier onder), aangesien die kommissie buite sy mandaat opgetree het deur getuienis te hoor en daarby bevindinge te maak wat suiwer oor taalkwessies handel. Dit is vreemd, en onbehoorlik vir die kommissie, wat aangestel is om rassisme te ondersoek, om so buite sy mandaat op te tree. Hierdie benadering getuig van nalatigheid of kwaadwilligheid, of ‘n kombinasie daarvan. Die debat en gesprek oor taal aan US wentel boonop lankal nie meer rondom ras of Afrikaanse uitsluitlikheid nie, maar eerder oor Engelse taaloorheersing en hoe dit Afrikaans benadeel.
Ongegronde, eensydige bevindinge oor Afrikaans in sosiale ruimtes
Khampepe bevind in verband met Afrikaans in haar verslag onder meer dat daar ‘n “persepsie” is dat Afrikaans die voorkeurtaal by die US in nie-amptelike en sosiale ruimtes is. Daar word nie vermeld of dit die persepsie van slegs een of net ‘n handjievol studente is nie. Hoe dit ook al sy, bots die bevinding lynreg met getuienis voor die Menseregtekomissie verlede jaar – insluitend komende van ‘n inwonende hoof – dat Afrikaans verbied word in sommige informele ruimtes by die US. Dit bots ook lynreg met die weergawes van Afrikaanse studente in ‘n dokumentêre film, Listen, wat StudentePlein verlede jaar gepubliseer het. Die kommissie het geen ag op hierdie getuienis, wat in die openbare domein is, geslaan nie. Die kommissie se bevindinge oor taal en taalbeleid berus eerder op self-erkende “persepsies” wat ooglopend ‘n politieke eerder as objektiewe karakter dra.
Beweerde “voorkeur vir Afrikaans” het geen basis in praktyk of taalbeleid nie
Khampepe beveel verder aan dat die US se taalbeleid hersien word om ‘n “voorkeur vir Afrikaans” wat tot “uitsluiting” kan lei, van kant te maak. Khampepe se bevinding sou kon baat by selfs net ‘n elementêre oorweging van die taalbeleid. Daar is geen bepaling waarin selfs ‘n geringe voorkeur aan Afrikaans verleen word nie. Inteendeel ontlok die taalbeleid uit verskeie oorde kritiek omdat dit Afrikaans tot ‘n simboliese versiering by die US reduseer.
StudentePlein kan getuig van talle klagtes van studente by die US dat Afrikaanse leermateriaal, aanbiedings en assesserings tot die minimum beperk word en in baie gevalle heeltemal afgeskaf is. Dosente en fakulteite gaan selfs verder as die taalbeleid om Afrikaans heeltemal uit te wis. StudentePlein het vanweë ‘n begrip vir die oënskynlike mandaat van die kommissie nie getuienis oor taalkwessies gelewer nie. Afrikaanse studente is onder ‘n wanindruk geplaas dat die Kommissie nie taalkwessies sou aanspreek nie. Dit het waarskynlik die kommissie in staat gestel om ongunstige bevindinge oor Afrikaans te maak, onder die voorwendsels van ‘n ondersoek na rassisme.
Stappe vorentoe
StudentePlein gaan alle stappe tot ons beskikking neem om te verseker dat die bevindinge van die verslag nie neerslag vind in die US se reeds Engels-gesinde benadering tot taal nie. Ons oorweeg, in oorleg met ons regspan, regstappe in verband met die verslag self en sal regstappe oorweeg in verband met enige implementering van die bevindinge oor taal en taalbeleid. Ons versnel ook die uitrol van alternatiewe studiegeleenthede vir Afrikaanse studente in die Boland, in samewerking met ander organisasies. Meer aankondigings hieroor volg binnekort.