StudentePlein sal sterk staan teen pogings om Afrikaanse kandidate vir Matie-SR te diskwalifiseer
- 30 Augustus 2024
StudentePlein is bewus van pogings van die Verkiesingskommissie van die Universiteit Stellenbosch (US) om ‘n studenteraadverkiesing omver te werp, oënskynlik weens StudentePlein se onderskrywing van sommige Afrikaanse kandidate wat daaraan deelneem. Die kwessie het onder ons aandag gekom toe die studentehof van die US vandeesweek ‘n uitspraak daaroor op hul webblad gepubliseer het. Die Verkiesingskommissie wou die verkiesing ongeldig laat verklaar, maar die studentehof het nie saamgestem nie.
Die Verkiesingskommissie was klaarblyklik sodanig ongelukkig oor StudentePlein en andere se onderskrywing van sommige Afrikaans-goedgesinde kandidate, dat hulle die studentehof dringend genader het om die verkiesing ongeldig te laat verklaar. Die Verkiesingskommissie het aangevoer dat die Afrikaanse kandidate die verkiesingsreëls oortree het deurdat hulle, onder meer, hul mag misbruik het om studente te beïnvloed om vir hulle te stem en ander kandidate benadeel het in hul pogings om stemme te werf. Die studentehof het die Verkiesingskommissie se argumente in geheel verwerp. Dit blyk uit die uitspraak dat die Verkiesingskommissie geen bewyse ter stawing van hul beskuldigings kon lewer nie en nooit hul eie ondersoek gedoen het om die meriete van hul vermoedens te bevestig nie. Die Verkiesingskommissie het boonop die versoek aan die studentehof op ‘n ex parte-basis gemaak, met die gevolg dat die kandidate oor wie se optrede gekla word, nie hul kant van die saak kon stel nie.
StudentePlein verwelkom die uitspraak van die studentehof. Die uitspraak is veral korrek in die sin dat geen van die kandidate met StudentePlein kontak gemaak het, of ons ooit versoek het om namens hulle verkiesingsmateriaal te versprei, of hulle te onderskryf nie. StudentePlein het op eie houtjie opgetree. Ons is van mening dat die kandidate wat deur ons onderskryf is sal kan bydra tot verruiming van Afrikaans op die verengelsde US-kampus. Ons besluit om die kandidate te onderskryf is in pas met onderskrywings wat ander organisasies in die verlede ten opsigte van SR-kandidate by die US gedoen het, sonder enige beswaar van die Verkiesingskommissie. Dit is veelseggend dat kandidate wat hul steun vir Afrikaans uitspreek skielik geteiken word.
Indien die Kommissie ten spyte van hul mislukte studentehofsaak sou voortgaan om die Afrikaanse kandidate te diskwalifiseer, sal StudentePlein op versoek van die kandidate, ‘n span en regshulp vir hul ondersteuning beskikbaar stel. Die US se baanrekord van vyandigheid teen uitgesprokenheid vir Afrikaans, vereis ‘n robuuste benadering teen enige verdere vergrype.