StudentePlein se debatseisoen suksesvol
- 5 Julie 2021
Die afgelope debatseisoen was enig in sy soort omdat daar aanlyn gedebatteer moes word. Nietemin het die spanne steeds so indrukwekkend soos altyd gedebatteer! StudentePlein het hierdie jaar twee debatspanne vir die Dink of Sink debatskompetisie ingeskryf, wat aanlyn by ons kantoorblok in Dorpstraat in hulle deftige swart golfhemde gedebatteer het. Een van ons spanne het al die pad tot by die halfeindrondtes teen Pukke gevaar. Die lede van dié debatspan deel graag hulle ervarings van hierdie unieke debatseisoen.
Die StudentePlein debatspan bestaan uit Matie eerstejaars Adriaan van Wyk (Dagbreek), Milda van Dyk (Minerva), Henri van der Westhuizen (Dagbreek) en Ernst Pieterse (Eendrag). Die vier van hulle studeer BRekLLB en kom al van Affies af saam waar hulle gereeld teen mekaar gedebatteer het. Volgens Milda was dit altyd sy en Ernst teen Henri en Adriaan, maar “dis lekker om nou saam in een span debat te doen”.
Die spanlede het die onderwerpe as baie interessant, insiggewend en stimulerend beskou. “Dis wonderlik om te sien dat die onderwerpe aktueel en van toepassing op ons huidige omstandighede is,” sê Henri, “dit was regtig nogal innoverend en ons moes kreatief en diep dink om goeie argumente vir of teen die onderwerp te kry”.
Die lede het veral die sosiale samekoms van dié seisoen geniet. Soos Ernst vertel: “Dit was regtig ’n lekker blaaskans van die akademie om as ’n span bymekaar te kom en sinvol te debatteer.” Hulle is baie dankbaar dat hulle weer ’n geleentheid kon aangryp om in hulle eie taal te debatteer. “Verlede jaar was maar ’n moeilike jaar, en daar was nie eintlik geleenthede om aan hierdie wonderlike aktiwiteit deel te neem nie,” voeg Henri by.
Te same met al die lekker was daar ook hier en daar ’n paar uitdagings. Milda noem dat dit ’n groot uitdaging was om teen die ander StudentePlein span in die kwarteindrondtes te debatteer! Ernst en Milda sê dat die ander spanne se sprekers van ’n hoë kaliber was. Henri wys op die uitdaging om oor iets te debatteer waarmee jy nie saamstem nie. “Om vir iets te praat wat met jou binneste worstel, is altyd uitdagend,” vertel hy. Dié span skrik egter nie vir ’n uitdaging nie; dít is tog op die ou end wat debat so opwindend maak.
Die grootste struikelblok waaraan die spanlede wel gewoond moes raak, is die feit dat die debat aanlyn plaasgevind het. “Dis meer vatbaar as jy voor die persoon kan sit en met hulle kan redeneer. Die taktiek op Teams is heeltemal anders, dit verander hoe jy praat en oor die situasie dink,” vertel Adriaan. Volgens Ernst was die tegnologie aanvanklik ’n uitdaging, maar hulle het dit effektief tot hulle voordeel gebruik. “Ek dink nie dit het enigsins ons vermoë om debat te voer, gehinder nie,” sê hy. Milda voeg ook by dat die tegnologiese aspek “toe nie so uitdagend was nie”. Adriaan meen dat aanlyndebat beslis sy pluspunte het. “Dis lekker om die mikrofone af te sit en met jou spanmaats te skinder oor wat die ander persoon sê”, lag hy.
Die spanlede bedank vir StudentePlein vir die geleentheid om in hulle moedertaal te kan debatteer. “StudentePlein ondersteun ons waarokal hulle kan,” sê Milda. Bo en behalwe die opstel van toerustig en mikrofone, het Ruan Goosen, Frederik van Dyk en Tian Alberts die debatte bygewoon en eet- en drinkgoed aangedra.
“StudentePlein gee vir ons Afrikaanse Maties ’n kans om ons plek in die son te kan inneem,” sê Adriaan. “Eks regtig dankbaar dat SP vir ons ’n platform gegee het om aan hierdie kompetisie deel te neem,” voeg Ernst by. Henri sluit af: “Dit is nie ’n organisasie wat baie sê en niks doen nie ̶ hulle laat dinge gebeur!”
Dit was vir StudentePlein ’n vreugde om met hierdie debatspanne te kon werk en ons sien uit na die volgende debatseisoen.