
StudentePlein se eerste Skemerkelkie
- 23 Maart 2021
Op Donderdag 18 Maart om 18:30 het StudentePlein ’n verwelkoming-skemerkelkie gehou op die dak van ons kantoorblok, Huis Lucy, met die doel om ons lede te ontmoet. Die funksie was ’n groot sukses en ons is dankbaar dat ons 25 gaste by hierdie geleentheid kon leer ken.
Ons het die aand met Sangria-skemerkelkies en ’n verskeidenheid sonsak-happies afgeskop. Om 19:00 het direkteure Frederik van Dyk en Ruan Goosen informele toesprake gelewer om ons gaste met ons werk bekend te maak, veral na die afgelope twee weke se gebeure. Die onlangse gevalle van openlike vyandigheid teenoor Afrikaans in koshuise, onder andere, dien as ’n bewussynsroep dat Afrikaans die ondersteuning van haar sprekers benodig.
“Die doel van StudentePlein is nie net om dit vir Afrikaanse studente makliker te maak om in Afrikaans te studeer en sodoende die US se tekortkominge aan te spreek nie, dit is om ’n gemeenskap volgens moderne e-leer behoeftes te skep. Ons platform maak dit dus moontlik vir die Afrikaanssprekende Matie om kennis in Afrikaans te deel en netwerke in Afrikaans op te bou,” het die toespraak gelui. Lede word aangemoedig om nie net hulpbronne uit die platform te neem nie, maar om ook self bydraes te maak. Dit is belangrik om ’n verskeidenheid klasnotas en studiemateriaal te versamel asook om die kwaliteit daarvan na te gaan.
“Die idee hieragter is om self ’n herwaardering vir Afrikaans in die akademie te bewerkstellig omdat die universiteit klaarblyklik nie Afrikaans wil steun nie. Daar is beslis ’n geleentheid om meer aktivisties om te gaan en aan die taalstryd deel te neem, vir diegene wat moed van oortuiging het om sterk en openbare standpunte in te neem.”
Na afloop van die toesprake het ons lekker worsrolletjies gebraai. Die gesellige atmosfeer het voortgeduur met die braai van malvalekkers vir nagereg.
StudentePlein beskou hierdie geleentheid as ’n mylpaal in ons boeke, dit was ’n voorreg om vir die eerste keer met ons lede te kon kennis maak. Lede van StudentePlein, oud en nuut, sowel as lede van die publiek kan vir nog sulke geleenthede in die nabye toekoms uitkyk.
Ons wense is dat ons lede waarde in die StudentePlein netwerk sal vind en dat hegte vriendskappe en samewerking rondom Afrikaans in die akademie sal ontstaan.