StudentePlein se Kanja van der Merwe ontvang die jeugtoekenning by die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings
- 28 November 2022
Admin
StudentePlein se hoof- operasionele beampte, Kanja van der Merwe, is op Vrydag 25 November 2022 aangewys as wenner van die jeugtoekenning by die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings
Kanja bevorder tans Afrikaans in verskeie areas op die ouderdom van 25. Sy is ’n PhD-kandidaat in Vertaling aan die Universiteit Stellenbosch, en sy pak haar proefskrif in Afrikaans aan. Haar navorsing fokus tans op die nut van taalaanleerstrategieë om ‘n model van tolkaanleerstrategieë vir prosesgerigte tolking te skep. Sy was ook vanjaar ‘n dosent vir Afrikaanse Taalverwerwing.
In 2021 het sy by StudentePlein metakampus begin werk waar sy tans die operasionele hoof en uitvoerende direkteur is. Kanja sê altyd Afrikaanse studente moet hulle taal in elke sfeer ten volle kan benut – en StudentePlein help hulle om in die pylvak te kom. Dit is vir haar vreeslik bevredigend om studente te help om hulle droomstudie-ervaring in Afrikaans te verwesenlik.
Kanja bevorder Afrikaans in elke deel van haar daaglikse roetine. Sy blaas lewe in Afrikaans in, veral vir jongmense. StudentePlein het vir Kanja gevra hoe sy die Kokertoekennings ervaar het:
“Ek is dankbaar dat organisasies soos die Afrikaanse Taalraad erkenning aan rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap gee vir hul bydraes tot die bevordering, beskerming en bemagtiging van Afrikaans en haar sprekers. Die lekkerste deel van die toekennings vir my was om dit saam met name soos Danie van Wyk van die DAK Netwerk en Marlie Coetzee van VivA Afrikaans te deel. Ek het die voorreg gehad om hulle vroeër vanjaar by geleenthede oor Afrikaans te ontmoet, so die eenheid en gedeelde liefde vir Afrikaans was baie spesiaal.”
Kanja dra haar jeugtoekenning aan StudentePlein op, wat “my oë vir die waarde van my moedertaal oopgemaak het”. Baie geluk Kanja, die StudentePlein-gemeenskap is trots op jou!