StudentePlein skep ruimte om in Afrikaans te kan sosialiseer op Matie-kampus
- 4 September 2024
Die groeiende behoefte aan ‘n veilige ruimte vir sosiale interaksie in Afrikaans, het die afgelope paar maande duidelik, tydens StudentePlein se gewilde Afrikaanse sokkies en pretdraf-geleenthede, navore gekom. StudentePlein het in die derde kwartaal twee sokkies, asook ‘n pretdraf in samewerking met verskeie studente-koshuise aangebied. Hierdie sosiale geleenthede was so gewild dat daar reeds verskeie versoeke vir verdere samewerkingsmoontlikhede is.
StudentePlein en Nerina-dameskoshuis sokkie
StudentePlein het op 23 Julie saam met Nerina-dameskoshuis die derde kwartaal afgeskop en die koue weggedans in hulle koshuissaal. StudentePlein het soos altyd die droë kele gelawe met iets te drinke en ‘n ontspanne Afrikaanse atmosfeer geskep vir ons lede en potensiële lede.
StudentePlein, Lydia, Heemstede en Huis Marais Sokkie
‘n Maand later op 27 Augustus, het ons weer so gemaak – dié keer in samewerking met drie studentekoshuise, naamlik Lydia, Heemstede en Huis Marais. Die geleentheid is by Huis Marais gehou en die sokkiegangers se kommentaar op sosiale media spreek vanself:
“Beste sokkies! Kan nie wag vir môre nie.”
@Ans Tshilumbu
Derby Pretdraf in samewerking met Nerina- en Monica-dameskoshuise
StudentePlein skep ook eg Afrikaanse sosialiseringsgeleenthede op sportiewe vlak. Ons Derby Pretdraf op 31 Julie saam met Nerina- en Monica-dameskoshuise, by Jannasch Park in Mostertsdrift, was ‘n lekker winterwedloop vir oefen, kuier en tuisvoel in ons moedertaal. StudentePlein het die gees help bou met die verversings en die dames met hulle “uitrustings”.
“Dankie StudentePlein dat julle so mooi na ons dames gekyk het. Sien julle by die volgende wedloop!”
@Monica-dameskoshuis
“Baie dankie! Dit is altyd ‘n plesier om met julle te werk. Op nog vele projekte saam.”
@Nerina-dameskoshuis