
StudentePlein staan weer studente by oor hernude verbod op Afrikaans in Matie-koshuise
- 12 Februarie 2023
StudentePlein is vandeesweek deur studente onafhanklik van mekaar in verskeie koshuise by die Universiteit Stellenbosch (“US”) genader oor wat blyk ‘n hernude (of dalk voortslepende) verbod op Afrikaans in informele sosiale omgewings te wees. Soos in 2021, staan StudentePlein weer studente by wat tydens die verwelkomingstyd deur koshuisleiers met intimidasie en dreigemente geteiken word wanneer hulle Afrikaans in informele sosiale kontekste by Maties gebruik. Die spanning in sommige koshuise is sodanig dat sommige studente bang om meer besonderhede vir StudentePlein te gee uit vrees vir viktimisering.
Die taalvergrype wat nou aangemeld word blyk nog meer afkeurenswaardig as in 2021 te wees. Eerstejaarstudente rapporteer dat geselskapgroepies by sosiale funksies waarin Afrikaans gebruik word – selfs waar elkeen Afrikaanshuistaalsprekers is – soms deur geïrriteerde, venynige koshuisleiers vermaan word om dadelik oor te skakel Engels toe. Terug by die koshuis, dreig en intimideer koshuisleiers dan die “skuldiges” omdat hulle durf in Afrikaans te gepraat het.
StudentePlein hou die US-bestuur, spesifiek die Afdeling: Studentesake en Sentrum vir Studentegemeenskappe (“SSG”) regstreeks verantwoordelik vir die mees onlangse taalvergrype in koshuise. Hierdie gemelde organe van die US tree ten beste ongeërg op oor vergrype teen Afrikaanse studente. Rekords wat StudentePlein verlede jaar kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (“PAIA”) by die US ingepalm het, wys dat die Afdeling: Studentesake en SSG die vergrype van 2021 as ‘n terloopse kwessie hanteer het en geen planne beraam het om vergrype in die toekoms te verhoed nie. Die SSG en Afdeling: Studentesake se apatie oor die kwessie lê aan die kern van die herhaling van taalvergrype.
‘n Diktatoriële slegs-Engels gesindheid is só diep verweef in die opleiding wat aan koshuisleiers onder die dekmantel van “inklusiwiteit” gegee word, dat dit nie verbaas dat taalvergrype teenoor diegene wat durf ‘n ander taal as Engels praat herhaaldelik aan die lig kom nie. Dit blyk vir StudentePlein dat ‘n kultuur aan die US geskep is wat net tevrede is met Afrikaans as die taal glad nie in die openbaar gehoor word nie. Hierdie gedrag, gewoonlik gekamoefleer deur vriendelik-klinkende vermanings en op ander geleenthede deur venynige dreigemente, is neerbuigend en onderdrukkend, en skep ‘n vreeskultuur wat Afrikaans se status as inheemse, amptelike taal ondermyn.
StudentePlein se kantore word vandeesweek elke dag met nuwe klagtes oor taalvergrype bereik. Die klagtes word stelselmatig verwerk, en ons sal na afloop van die US se verwelkomingsprogram die volle mate van vergrype evalueer en stappe neem om ons lede en alle Afrikaanse studente te beskerm en die US verantwoordbaar te hou. Ons het reeds die MRK, wat steeds nie hul 2021-ondersoek oor taalvergrype by die US afgehandel nie, ingelig oor die nuwe voorvalle en ‘n amptelike klag namens die gegriefdes by die US aanhangig gemaak.
StudentePlein eis dat die US teen Vrydag 17 Februarie spesifieke stappe aankondig om die voorvalle aan te spreek en te verhoed. Indien die US weier of versuim, sal ons verdere stappe oorweeg.