StudentePlein verhuis na Victoriastraat
- 26 April 2024
Na meer as drie jaar in Huis Lucy in Dorpstraat het StudentePlein na die Lutz-gebou te Victoriastraat 11, verhuis. StudentePlein se perseel is in eenheid 12 van die Lutz-gebou geleë.
Die Lutz-gebou is sentraal in die studentekern van die dorp geleë, tussen die Eikestad Mall en die Ou Hoofgebou. Dit bring StudentePlein se fisiese teenwoordigheid veel nader aan lede wat in allerlei koshuise in, onder andere, Victoriastraat woon en klasloop op die Matie-kampus.
Die Lutz-gebou, wat in 2001 opgerig is, bestaan uit drie verdiepings, met studente woonstelle op die middel- en boonste verdiepings en kantore op die grondvloer. StudentePlein moedig lede en voornemende lede aan om te kom inloer, hetsy vir akademiese hulp, ‘n stil studieruimte met elektrisiteit en internet tydens beurtkrag; of net ‘n lekker koppie boeretroos.
StudentePlein oor tyd
2020
StudentePlein se stigtingsdokument word op 16 Maart 2020 te Lanzerac Craven Bar, Stellenbosch deur die stigterslede aanvaar.
‘n Nasionale ramptoestand, wat vir meer as ‘n jaar sou voortduur, is kort daarna afgekondig, en StudentePlein het in 2020 aanlyn te werk gegaan.
2021
StudentePlein trek by Huis Lucy, te 99 Dorpstraat in.
Huis Lucy is diep ingewortel in die geskiedenis van Stellenbosch en dateer uit die vroeë 18de eeu. Dit was oorspronklik in 1814 gebou om as ’n koetshuis te dien, maar ongeveer ’n eeu later het die gebou status as die eerste dameskoshuis van Universiteit Stellenbosch verwerf toe die Universiteit uiteindelik aansoeke van vrouestudente aanvaar het. Die destydse eienaar wat in 1920 haar deure vir vrouestudente oopgemaak het, was mev. Lucy le Roux, Maties se heel eerste koshuismoeder. Volgens Afrikaanse digter en skrywer Hennie Aucamp was Lucy “’n toonbeeld van gekonsentreerde Bolandsheid en ouwêreldse sjarme”.Stellenbosch is die tuiste van ’n handjievol spogvoorbeelde van Kaaps-Hollandse, Georgiese en Victoriaanse argitektuur. Huis Lucy is ’n klassieke en tydlose toonbeeld van die Georgiese styl van daardie tydperk. Vele eietydse en opvallende kenmerke van die huis is steeds in plek, insluitend die oorspronklike Oregon-dennehoutvloere, die groot skuifvensters en hemelhoë houtplafonne, en ’n ou, skaduryke eikeboom by die voordeur.
2024
StudentePlein verhuis na Lutz-gehou, Victoriastraat.
Weens ‘n verandering in eienaarskap van Huis Lucy, wat in ‘n gastehuis omskep sal word, het StudentePlein geen ander keuse as om nuwe kantoorruimte te vind nie. Die Lutz-gebou in Victoriastraat blyk ‘n goeie alternatief te wees. Dit is in die hart van kampuslewe in Stellenbosch en veilige stapafstand van bestaande koshuise en klaskamers.