
StudentePlein verskerp optrede ná US-hofstukke toegee Afrikaans is onbelangrike oorweging
- 31 Maart 2022
Die Universiteit van Stellenbosch (US) gee nou in hofstukke toe dat Afrikaanse onderrig oor die laaste twee jaar ‘n onbenullige kwessie op hul radar was. Die ywer waarmee StudentePlein se Afrikaanse metakampus uitgebrei word, word hiermee opnuut aangewakker. Die US het onlangs ‘n vlaag opponerende eedsverklarings geliasseer in ‘n saak waarin StudentePlein en die DA – die applikante – die Wes-Kaapse Hooggeregshof vra om die US te gelas om die onregmatige afskaf van Afrikaans in lesings stop te sit.
In hofstukke wat andersins onsamehangend is, blyk dit wel konsekwent dat die belang van Afrikaans en Afrikaanssprekende studente eenvoudig geen prioriteit geniet onder die US se beheerstrukture nie. In besonder gee die US verbatim toe dat die kwessies wat StudentePlein en die DA opper rondom die afskaffing van Afrikaans in bykans al die US se modules oor die laaste twee jaar, “tot in onbeduidendheid bleek” gegewe die US se ander uitdagings oor die laaste twee jaar.
Die US gee ook in hul hofstukke toe dat die voorskrifte van die taalbeleid wanneer dit by afwykings van fakulteite se taalimplementeringsplanne kom, nie gevolg is in 2020 en 2021 nie. Die US se Senaat en sub-komitees daarvan het in 2020 en 2021 die vereiste dat Afrikaans ook in sogenaamde dubbelmedium-lesings gebruik moet word, van kant gemaak. Die vereiste dat sodanige afwykings deur fakulteite self aangebring moes word, is deurgaans nie gevolg nie en die Senaat se sub-komitees het op eensydige en onregmatige wyse hierdie besluite geneem.
Desondanks die US se toegewings in hul antwoordende stukke en openhartige toeligting rondom Afrikaanse se onbenullige status by die US, opponeer die US die hofaansoek, maar hoofsaaklik op tegniese en formele gronde. Die US voer byvoorbeeld in hul stukke aan dat lede van StudentePlein eers omslagtige en formalistiese interne klagteprosedures moes volg alvorens StudentePlein die hof wou nader. Dit, terwyl die US oor meer as ‘n jaar lank versuim het om hul onregmatige besluite oor afwykings enigsins onder studente se aandag te bring.
Benewens litigasie wat reeds onderweg is, het StudentePlein in Desember verlede jaar ook ‘n versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die US ingedien om ‘n transkripsie van die Raadsvergadering in Desember te verkry waar die nuwe 2022-taalbeleid goedgekeur is. StudentePlein wil vasstel of die Raad wel aan die voorgeskrewe vereistes van die Wet op Hoër Onderwys voldoen het toe die beleid aanvaar is. Die US het die versoek op onbehoorlike wyse geweier, en prokureurs vir StudentePlein het sedertdien appèl aangeteken.
Die US is ‘n instelling wat deur openbare fondse en fondse vanuit veral die Afrikaanse gemeenskap bedryf word. Terwyl dit belangrik is om die US verantwoordbaar te hou wanneer dit by die bepaling en implementering van hul taalbeleid kom, beur StudentePlein voort met die uitrol van ‘n metakampus wat op eie benadering aan Afrikaanse studente se akademiese, kulturele en sosiale behoeftes kan voldoen.
StudentePlein en die DA se hofgeding teen die US word op 15 Augustus vanjaar in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.
Uitgereik deur:
Tian Alberts
Direkteur
tian@studenteplein.co.za
Albertus Liebenberg
Direkteur: Ledediens
albertus@studenteplein.co.za