
StudentePlein verwerp nuwe Taalbeleid deur US-raad goedgekeur
- 3 Desember 2021
StudentePlein verwerp die nuwe Taalbeleid wat op 2 Desember 2021 deur die Raad van die Universiteit van Stellenbosch goedgekeur is. Dit stel ’n voortsetting daar van ’n Engelse universiteit met Afrikaanse en Xhosa versierings bo-op, wat deur die 2016-taalbeleid teweeggebring is.
StudentePlein, wat Afrikaanse lede in 9 van die US se fakulteite verteenwoordig, het vanjaar twee maal breedvoerig kommentaar gelewer op die nuwe Taalbeleid toe hy nog in sy konsepvorm bestaan het. Geen van StudentePlein se voorstelle manifesteer egter in die Taalbeleid wat uiteindelik goedgekeur is nie.
Die normatiewe verbintenisse tot ’n Afrikaanse aanbod in die aanhef tot die nuwe Taalbeleid manifesteer hoegenaamd nie in die operasionele bepalings daarvan nie, wat steeds grootliks op aanvraag deur studente, personeelbeskikbaarheid en hulpbronbeskikbaarheid gebaseer is. Taalimplementering word ook op 16 verskillende plekke in die nuwe beleid onderhewig gestel aan wat “redelikerwys doenbaar” is – maar slegs as dit by Afrikaans en Xhosa kom. Wanneer dit by Engels kom, is daar geen kwalifikasies nie.
Die US-bestuur sien ook klaarblyklik steeds nie kans om van die gewraakte definisie van inheemse taal, waarin Afrikaans nie ingesluit is nie, af te sien in ’n daad van etiese protes nie, en kies eerder om by Blade Nzimande se bedenklike woordspeletjies te berus.
Die nuwe Taalbeleid, soos sy voorganger, maak ook nie voorsiening vir behoorlike verantwoordbaarheidsmeganismes as dit by taalimplementering kom nie. Aangesien die US op verskeie geleenthede sy 2016-taalbeleid geïgnoreer het met skadelike besluite oor afskaffings van Afrikaans, nader StudentePlein saam met die DA tans die Hooggeregshof vir ’n bevel om die US te dwing om die bepalings van sy nuwe Taalbeleid te eerbiedig. Alhoewel die nuwe Taalbeleid geen regverdige taalbedeling vir Afrikaanse studente teweegbring nie, is dit steeds belangrik dat die US die bepalings van sy Taalbeleid eerbiedig.
Afrikaanse studente, wat ook vanjaar onder beleg in koshuise gekom het toe Afrikaans in privaatruimtes gebruik is, se ervarings sal onveranderd bly sou dit van die nuwe Taalbeleid afhang. Daarom brei StudentePlein volgende jaar sy meta-kampus model aansienlik uit te danke aan beleggings vanuit die Afrikaanse gemeenskap.
Daar is niks in die nuwe Taalbeleid waarna StudentePlein-lede en ander Afrikaanse studente (en voornemende studente) kan uitsien nie. Operasioneel het niks verander nie, en StudentePlein, wat reeds Afrikaanse studiehulp in vyf fakulteite en meer as 40 modules van die US voorsien, sal hierdie aanbod in 2022 aansienlik verskerp.
Woordvoerders:
Frederik van Dyk – Direkteur – frederik@studenteplein.co.za
Tian Alberts – Direkteur – tian@studenteplein.co.za