
StudentePlein dien versoek by US in vir toegang tot inligting oor taalimplementering
- 26 Maart 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein het vandag ‘n formele versoek aan die Universiteit Stellenbosch gerig om toegang tot inligting van die afgelope paar jaar te verkry ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting. Die gesogte inligting hou verband met korrespondensie, besluite, verslae en ander rekords oor die laaste paar jaar in verband met die implementering van die US se 2016-taalbeleid. Onder andere word die volgende verlang:
Alle korrespondensie rakende ’n behoefte aan of voorstelle vir afwyking van die US Taalbeleid
Alle besluite rakende taalimplementering in fakulteite en klasse
Die agenda en notule van die Senaatsvergadering van 19 Maart 2021, waar die Uitvoerende Komitee van die Senaat Afrikaans afgeskaf het vir nuwe modules in 2021
Alle Fakulteittaalimplementeringsplanne ten opsigte van module implementering en tersaaklike begrotings daarvoor in die US se fakulteite, asook alle rekords van die werklike uitgawes daarvan oor die laaste paar jaar.
Alle fakulteite se verpligte jaarverslae en voldoeningsverslae oor die verwesenliking van hul Taalimplementeringsplanne
Alle verslae van die Viserektor in verband met taalimplementering in fakulteite
Alle rekords van veranderinge aan die taalreëlings in fakulteit se Taalimplementeringsplan wat buite die gereelde hersieningsproses geval het
Die verpligte verslae oor taalimplementering wat fakulteite jaarliks aan die Viserektor gestuur het sedert die inwerkingtrede van die Taalbeleid
“Hierdie inligting is nie net van kardinale belang in StudentePlein se strewe om lede se regte te beskerm nie, maar ook van openbare belang. Die publiek, veral in die Wes-Kaap, en diegene wat betekenisvol op die nuwe konseptaalbeleid wil kommentaar lewer, het ‘n dringende belang in toegang tot daardie interne rekords wat beduidend kan wees van die sukses of mislukking van die 2016-beleid wat in wese dieselfde is as die konsepbeleid wat die US nou beoog om te implementeer,” lui ‘n gesamentlike verklaring van StudentePlein.
Die verklaring lui verder dat die beskikbaarstelling van die gesogte rekords nie regverdiging vereis buiten dat dit nodig is om regte te beskerm nie. “Hierdie rekords behoort in elk geval vir die publiek beskikbaar te wees, en dit kan nie moontlik inligting bevat wat vertroulik of geheim behoort te wees nie.”