Taal op Maties: Die funksieverlies van Afrikaans kruip voort
- 9 Maart 2021
Goeiemôre op ʼn vars laatsomersoggend!
Ek wens my eerste blogplasing op ons jong organisasie se webblad kon onder meer rosige omstandighede wees, maar op die Matie-taalfront is daar geen rus nie.
My naweek was bedrywig: Sedert Donderdag het gerugte en klagtes begin indruppel, en toe ingestroom, oor hoe koshuisleiers op ʼn kille, selfvoldane wyse die eerstejaars in twee vrouekoshuise vermaan om slegs Engels onder mekaar te praat. Eerstejaars van Minerva en Irene is aangesê om selfs in hulle private gesprekke Engels te praat, vir ingeval ʼn verbyloper nie die geselsers se moedertaal verstaan nie. Daar is by Minerva gesê dat die “verwelkoming Engels is” en dat diegene wat die diktate oor taal oortree, gevra sal word om die bepaalde groepsaktiwiteit te verlaat “omdat hulle duidelik nie deel van die verwelkomingsprogram wil wees nie”.
Terwyl die taal van onderrig en leer die “formele” aspek van die taaldebat op Stellenbosch was, met baie nuanse en ruimte vir wen-wen oplossings, is hierdie kwessie ʼn geval van geforseerde indringing in studente se private, persoonlike en informele sosiale ruimtes. Nie net is dit vir studente ongemaklik, onnatuurlik en moeilik om in Engels te praat as dit nie hulle moedertaal is nie, die onwettige en afgedwingde Engelsheid skep ʼn omgewing wat Engels subtiel voortrek vir geen regverdigbare rede nie. Die koshuisleiers se optrede impliseer dat tale buiten Engels onwelkom, onbelangrik en selfs minderwaardig is.
Die huidige taalbeleid in klousule 7.2.5 stipuleer die volgende:
“In koshuise en ander leefomgewings word taal op so ʼn wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.”
Dit beteken dat taal – ongeag watter kombinasie van tale – vir formele aktiwiteite vir almal verstaanbaar moet wees. Dit stipuleer nie slegs Engels nie, en is beperk tot formele aktiwiteite, wat in die konteks van verwelkoming na geskeduleerde koshuisverrigtinge verwys. Dit kan beslis nie geplooi word om in studente se private assosiasies, vriendskappe en ander verhoudings in te dring deur Engels af te dwing nie. Dit ontneem studente van agentskap om self te kies wanneer en met wie hulle gesels, en betrap hulle vryheid om ʼn taal van hulle keuse te gebruik. Vir ons as Afrikaanssprekende Maties behoort hierdie arrogante houding deur ons eie studenteleierskap glad nie geduld te word nie. Niemand kan wegkom deur fundamentele taalregte so te minag nie.
StudentePlein en ander organisasies, asook studentegroepe wat hierdeur geraak word, gaan nie die ander wang draai nie. Vanweek sal daar in die media en in kommunikasie met die universiteit daadwerklik teen hierdie ongrondwetlike skending van taalregte opgetree word. Hou jou e-posse en Whatsapp dop vir kommunikasie vanaf StudentePlein: Ons wil graag ons lede by ons aktivisme vandeesweek betrek, sodat julle kan sien hoe daar proaktief vir meertaligheid en vir Afrikaans opgetree moet word. Julle deelname kan ʼn stroom druppels in ʼn emmer wees.
Verder stel ons binnekort ʼn klagteportaal op ons webblad bekend waar jy anonieme of openlike klagtes kan lê, en StudentePlein kan vra om jou met die taalklagte by te staan of dit namens jou voor te lê as jy bang is vir viktimisasie. Ons verstaan dat daar ʼn kultuur van vrees in sommige studentegemeenskappe oor taal geskep word, maar ons moedig julle tog aan om klagtes te bring sodat onregte reggestel kan word. Terwyl anonimiteit gerespekteer word, spoor ons julle ook aan om openlik in opposisie tot taaldiskriminasie te staan. Hoe meer openlike stemme, hoe groter ons totale impak op ʼn onregverdige taalstelsel. Lê ‘n klag by https://www.studenteplein.co.za/klagtes of jy kan die e-posadres admin@studenteplein.co.za gebruik om taalklagtes aan ons te stuur. Ons kan nie wag om die strydbyl saam met jou op te neem nie!
Staan sterk en moenie bang wees om jou merk te maak oor jou moedertaal op Maties nie.
As ons saam verantwoordelikheid neem, sal ons in ʼn regverdiger omgewing kan leef, leer en studeer.
Mooi loop,
Frederik R van Dyk
Direkteur