
Uitnemende universiteite steun inheems
- 26 April 2021
Tian Alberts
Die huidige bydrae is ‘n verkorte weergawe van ‘n artikel wat voorheen in Rapport verskyn het.
Universiteite het histories nog altyd ’n kritiese rol in die sosiale ontwikkeling en die uitbou van kulturele waardes van omliggende gemeenskappe gespeel. Suid-Afrikaanse universiteite ontgin byvoorbeeld potensiaal in agtergestelde gemeenskappe wat andersins onder die radar sou kwyn. Onlangse skrywes in die media oor Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch (US) herinner in besonder oor die verwagting dat universiteite kulturele oordrag en gemeenskapsontwikkeling moet fasiliteer. Dit is nie ’n vreemde verwagting nie. Trouens, by die wêreld se top vyftig universiteite, waarvan almal behalwe een volwaardige kennisoordrag in ’n inheemse landstaal onderneem, lê daar waarskynlik die pligsbesef opgesluit dat ’n universiteit se apatie oor taal en kultuur ’n groot impak op gemeenskapsontwikkeling het. Op die mees basiese vlak van geleentheid kan ’n nuwerwetse strewe na internasionalisering ten koste van ’n inheemse taal dáárdie taalgemeenskappe van tersiêre blootstelling vervreem. Universiteite as openbare instellings se benadering tot hierdie kwessies is daarom in wese polities van aard. Waarom spreek die rektor en visekanselier van die US, professor Wim de Villiers, dan op 2 April in ’n meningstuk in Die Burger sy misnoeë uit oor politieke partye se opponering van die US se taalbeleid? Die huidige taalbeleid het immers Afrikaans by die US tot ’n sporadiese versiering gereduseer. De Villiers se ontsteltenis is ironies, want die proses wat tot die aanvaarding van die huidige taalbeleid gelei het, is gevlek met ingewing tot politieke druk om die US onbepaald te verengels.
Die voortdurende pligsversuim van die US om Afrikaans as inheemse taal te bevorder of selfs net te bewaar, tot so ’n mate dat Afrikaans nou selfs in sommige informele ruimtes van die US verbied word, blyk uit die ope brief van die US se eie Departement van Afrikaans en Nederlands in Die Burger verlede week, beëdigde verklarings van studente wat nou voor die Menseregtekommissie dien, en openbare bydraes deur studente wat getuig van die verdwyning van Afrikaans in klasse. Die implikasies van hierdie pligsversuim is tweeledig. Eerstens maak die US as instelling wat daartoe in staat is om Afrikaans naas Engels as onderrigtaal aan te bied, die deur van geleenthede toe vir daardie talle persone wat werklik slegs toegang tot tersiêre kennisbronne in Afrikaans kan verkry. Tweedens is die US aandadig in die verdringing van ’n inheemse taal wat in die vorige eeu wetenskapstatus verwerf het, en pootjie sodoende ook kulturele oordrag in die tersiêre onderrigruim. Hierdie pligsversuim word verskerp wanneer die rektor ontkennende en misleidende beweringe in die publiek maak. De Villiers versuim ook daarin om te noem dat die rede waarom slegs 20% van Afrikaanse studente nog voorkeur vir Afrikaans as onderrigtaal aandui, is omdat daar bloot ’n paar opsommende sinne in Afrikaans in die oorgrote meerderheid van die US se klasse vir Afrikaanse studente gereserveer word.
Die kwessie rondom die behoud van Afrikaans by Stellenbosch spreek primêr pedagogiese realiteite rondom insluiting en betekenisvolle begrip in studente se moedertaal aan. Daar is werklik talle studente in die Wes-Kaap en Noord-Kaap wat by die US sou kon studeer, was dit nie vir die taalbeleid wat homself leen tot bykans slegs Engels nie. Hierdie kwessie is egter ook belangrik vir die breër Afrikaanse publiek omdat die benadering wat die US rondom taal, kultuur en inklusiwiteit ingeslaan het, in pas is met ’n toenemend ongewilde globaliseringstrewe en gepaardgaande standaardisering van kennis, kultuur en waardes. Dit lei noodwendig tot verlies aan inheemse kultuur en tradisie. Dit begin egter duideliker blyk dat die nadraai van globalisering vervelige, eentonige en kultuurlose instellings is wat alles vir almal probeer wees. Die US is ’n prikkelende gevallestudie. Ter wille van skynbaar doeltreffende kommunikasie en doeltreffende onderrig onder ’n sambreel wat almal ten alle tye moet laat welkom voel, word Engels as ’n de facto standaard vir sukses en insluiting daargestel en sneuwel moedertaalonderrig – ’n betekenisvolle pedagogiese aangeleentheid.
Hierdie benadering staan koud teenoor daardie studente wat dokters, prokureurs, ingenieurs en onderwysers in hulle eie gemeenskappe wil word eerder as om by lang tafels in wolkekrabbers in Sandton, New York en Londen te werk. Die realiteit is dat baie US-studente na afloop van studies in elk geval na hulle gemeenskappe van herkoms vir geleenthede sal moet of wil draai – en hulle gaan dit met ’n halwe (Engelse) begrip moet doen. Voorgraadse universiteitsopvoeding in Engels kan vir die nie-Engelse spreker meer skade as voordeel inhou. Dit is dalk hoekom studente by die wêreld se vooraanstaande universiteite wat nie in Amerika en Engeland is nie, met vrymoedigheid in hulle moedertale Mandaryns, Duits, Japannees, Koreaans, Frans, Nederlands, Maleis, Deens, Russies en Spaans studeer. Daardie studente sal ongetwyfeld hulle merk in ’n geglobaliseerde wêreld kan maak, en van insgelyke belang is dat hulle ook waardevolle insette in die vooruitgang van hulle eie gemeenskappe sal kan lewer.
Terwyl die US se nuwe konseptaalbeleid die politieke weg van minste weerstand vergestalt deur vir alle praktiese doeleindes Engelse eentaligheid in te boesem, lyk die benadering tot taalbeleid by die wêreld se voorste universiteite heelwat anders. Daar manifesteer kreatiewe meertaligheid en ’n sterker verbintenis tot inheemse tale, telkens as maatstawwe vir uitnemendheid. Dit is hoog tyd dat die US se Rektoraat en Raad herbesin oor dié universiteit se maatstawwe vir uitnemendheid.