US kan nie langer gevolge van sy Engelstalige beleid ignoreer – StudentePlein
- 2 Julie 2021
Teen die agtergrond van nuwe en skokkende inligting wat onlangs oor taalimplementering by die Universiteit Stellenbosch ontbloot is, doen die studenteorganisasie StudentePlein tans ‘n beroep op die US om dadelik op te tree om die gevolge van sy slegs Engelse benadering in klaskamers en leefruimtes te erken en ‘n daadwerklike proses van stapel te stuur om dit reg te stel.
In die eerste instansie het die US Woensdag weens ‘n versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, notules aan StudentePlein oorhandig wat op ‘n ondemokratiese wegdoen met Afrikaans in klaskamers dui. Dít nadat StudentePlein se regspan moes dreig om die Hooggeregshof vir regshulp te nader weens die US se aanvanklike versuim om die rekords te lewer.
Uit die rekord blyk dit onder meer dat die Uitvoerende Komitee van die Senaat reeds in April van verlede jaar “as ‘n saak van dringendheid … namens die Senaat” besluit het dat nuwe leermateriaal in klasse strydig met die Taalbeleid “slegs in Engels aangebied mag word”. Die UK van die Senaat het in Maart van 2021 nogmaals besluit dat daar van die Taalbeleid afgewyk mag word en dat nuwe leermateriaal slegs in Engels aangebied mag word.
“Die rekords wat nou aan StudentePlein oorhandig is, dui onomwonde daarop dat die US op alle fronte behalwe swart op wit in sy formele beleide met Afrikaans as onderrigtaal weggedoen het. Dat dit nie die US se amptelike beleid is nie, is irrelevant. Die gevolge van ‘n reeks besluite oor die afgelope paar jaar – waarvan sommige nie eers aan demokratiese stemming onderwerp is nie – skemer nou ook baie duidelik deur in ‘n dokumentêre film, Listen, wat StudentePlein verlede week oor die kwessie vrygestel het,” sê Tian Alberts, direksielid van StudentePlein.
Listen, wat al meer as 2,000 keer op YouTube gekyk is, getuig van Afrikaanse studente se ervarings in die US se klaskamers en koshuise, waar Afrikaans kennelik verdwyn het of nou verbied word.
“Die US se ongeërgdheid en verontskuldigende benadering oor gefundeerde kritiek dat meertaligheid by die US slegs ‘n fiksie is, opper die vraag wat dan nou nog moet gebeur voordat die US erken dat daar ‘n taalprobleem by dié universiteit is wat dringende ingryping verg. Studente, dosente, senaatslede, die Konvokasie sowel as gerespekteerde gemeenskapsorganisasies en alumni het intussen almal eenparig ‘n pleidooi aan die US gelewer dat die US openhartig en daadwerklik moet ingryp om Afrikaans en meertaligheid in die algemeen se plek op kampus te verseker eerder as om daarmee weg te doen.”
StudentePlein spreek verder sy dank aan lede uit wat ten spyte van die vooruitsig van viktimisering, besluit het om voor die Menseregtekommissie te getuig in laasgenoemde se ondersoek oor ‘n verbod op Afrikaans in koshuise by die US.
“Sommige verteenwoordigers van die US, onder meer die inwonende hoof van Huis Francie van Zijl, hou vol dat die klagtes voor die kommissie polities gemotiveerd is. Die realiteit is dat klagtes vanuit verskeie studentegemeenskappe voortgebring is, steeds voortgebring word en voortaan verder sal uitkring as ‘n natuurlike gevolg van die wegdoen met Afrikaans. StudentePlein verwelkom gemeenskapsinstellings, insluitend politieke partye, se betrokkenheid om antwoorde te eis en verdere druk op die US te plaas om geregtigheid te laat geskied.”
“Die gevolge van die Universiteit Stellenbosch se slegs Engelse benadering in klaskamers en koshuise kan eenvoudig nie meer deur dié universiteit geïgnoreer word nie, en moet daar dringend verantwoording gedoen word. Studente en die publiek is kennelik nie meer tevrede met die verdoeseling van die feite en formalistiese aanhalings van die bepalings van die US se Taalbeleid nie.”
StudentePlein verteenwoordig lede in agt fakulteite en verskeie koshuise by die Universiteit Stellenbosch, en voorsien Afrikaanse leermateriaal en ander ondersteuning aan hierdie studente sodat hulle in Afrikaans kan studeer.
“StudentePlein se kernwaardeaanbod is om sy lede met leermateriaal en ander akademiese ondersteuning by te staan. Ons sal egter nie huiwer om die hof te nader om enige verdere onreëlmatige besluite rakende afwykings van die Taalbeleid te laat hersien nie. Dit is onregverdig dat Afrikaanse studente die verloorders moet wees in ‘n twyfelagtige proses om van die US ‘n tipe wêrelduniversiteit te maak.”