Afskaffing van koshuislewe verg private alternatiewe as reaksie
- 13 Junie 2024
StudentePlein neem kennis van die Universiteit Stellenbosch-bestuur se voornemens om die Wilgenhof-manskoshuis te sluit. Dit volg op voornemens in vorige jare om ander manskoshuise ook toe te maak of in gemengde geslag koshuise te omskep, wat destyds deur sterk druk van alumni afgeweer is. Die afskaffing van alle of die meeste manskoshuise is egter steeds in die US se visier.
Alhoewel die besluit rondom Wilgenhof en ander manskoshuise nie direk met taalkwessies verband hou nie, plaas StudentePlein dit veral in die konteks van ‘n onverbiddelike pad wat die US-bestuur gekies het om ‘n kultureel enkelvoudige, streng gereguleerde en noodwendig, Engelse, kampus tot stand te bring. Die pad na so kampus vereis oorregulering van studente-interaksies, onder andere wat taal en tradisie betref, paternalisme en eindelik die uitwissing van dit wat die meeste studente na aan die hart lê.
StudentePlein se missie is om blywende alternatiewe geleenthede en ruimtes te skep, in Afrikaans, vir studente in Stellenbosch wat daaraan wil deelneem. Dit sluit akademiese, sosiale en intellektuele geleenthede en ruimtes in. Ons poog om studenteruimtes te skep en onderhou op ‘n wyse wat aanneemlik is vir ‘n vrye en voorspoedige studentelewe. Dit beteken dat studente toegelaat moet word om kreatiwiteit aan die dag te lê, tradisies te ontwikkel en binne redelikheid uit te leef, en geskille oor kultuur onder mekaar te kan oplos sonder oordadige inmenging van administrateurs.
Ons is bevrees dat die Universiteit Stellenbosch se hiperregulering van studentelewe, wat sowel taal as studenteverhoudinge betref, nie aanneemlik is vir vrye en voorspoedige studentegemeenskappe nie. Veral koshuise verander vinnig in streng gereguleerde kampusverblyf waar huiskomitees verlengstukke van die diktate van administrateurs word.
Dit is onwaarskynlik dat die Universiteit in die voorsienbare toekoms ‘n ander pad sal kies. Wat spesifiek studentelewe betref fokus StudentePlein daarom op die totstandkoming van alternatiewe studenteruimtes. In hierdie verband onderneem ons reeds ‘n lewensvatbaarheidstudie na die oprigting van private koshuisruimtes in Stellenbosch. Die projek is in ‘n beginfase en ons sal die publiek op hoogte hou van verwikkelinge en maniere waarop die projek ondersteun kan word.