
Behou HAT Aanlyn
- 28 September 2021
Die Afrikaanse Nasionale Taalliggaam (NTLA) van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad neem met groot ontsteltenis kennis van Pearson SA se aankondiging dat hulle die aanlyn weergawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) teen Augustus 2022 gaan onttrek. Die implikasie daarvan is dat Afrikaanse opvoeders, studente, leerders, joernaliste, taalpraktisyns, regsgeleerdes, ensovoorts binnekort nie meer toegang tot die HAT as waardevolle bron vir naslaanwerk sal hê nie.
Die HAT word steeds sedert sy totstandkoming in 1965 as die gesaghebbendste handwoordeboek van Afrikaans beskou. Dit is ’n staatmaker in die Afrikaanse taalgemeenskap wat op die boekrak van elke Afrikaanse gesin se huis staan. Hoewel Pearson SA steeds die papierweergawe van die HAT gaan publiseer, is die staking van HAT Aanlyn ’n bitter pil om te sluk. Alombekende leksikograwe soos professor Rufus Gouws en professor Danie Prinsloo toon aan dat daar die afgelope paar dekades geweldige ontwikkeling op die gebied van die elektroniese leksikografie was. ’n Woordeboek van ’n lewende taal sal nooit voltooi word nie, en dit is juis hierdie aspek wat aanlyn woordeboeke se waarde laat pryk. Dit word voortdurend opgedateer om die omgewing van Afrikaanssprekendes te weerspieël. ’n Menigte taalpraktisyns steun swaar op aanlyn bronne soos HAT Aanlyn, daarom is die afskaffing daarvan ’n tragiese tree terug vir ons taal.
Die NTLA rig ’n ernstige versoek aan Pearson om dit te oorweeg om die aanlyn regte tot HAT Aanlyn aan ander diensverskaffers beskikbaar te stel. As bewaarders van die Afrikaanse gemeenskap se taalskat – beslis onder meer die HAT – is dit ons grondwetlike verantwoordelikheid om die toekoms van die HAT te bewaar.
StudentePlein erken die waarde van die HAT aanlyn en ondersteun enige inisiatief om die welsyn daarvan en toegang daartoe te behou.
[Bron: VivA Afrikaans]