
Die eerste woordeboek in Kaapse Afrikaans
- 11 Augustus 2021
Kaapse Afrikaans is ’n taalkundig omvangryke taal met ’n uiteenlopende fonologiese, leksikale, grammatikale en pragmatiese stelsel. Dit spruit uit ’n vroeëre vorm van Kaaps-Hollands, die Suid-Afrikaanse vorm van Hollands.
Dit is pas bekend gemaak dat die eerste woordeboek van Kaaps deur die Drietalige woordeboek van Kaaps- (DWK-) projek ontwikkel gaan word. Hierdie projek word gelei deur die Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die nieregeringsorganisasie Heal the Hood Project. LitNet se Menán van Heerden het ’n onderhoud met Quentin Williams, direkteur van die CMDR, gevoer om meer uit te vind.
Williams vertel dat die DWK-projek ’n beskrywende korpusprojek is wat sal poog om die eerste woordeboek van Kaaps te ontwikkel. Die drie tale wat deel van die projek uitmaak, is Kaaps, Standaardafrikaans en Engels. Die volgende doelwitte is op die spel:
- Die verdere beligting van Kaaps se historiese wortels
- Die verdere debattering oor die eenwording van die skryfstelsel van Kaaps
- Die dokumentering van Kaaps op alle toepaslike platforms en in alle toepaslike genres, praktyke, optredes, interaksies en taalkundige landskappe
- Die beskrywing van sprekers van Kaaps se geleefde taalervarings
Williams sê verder dat die projek spesifiek daarop gemik is om Kaaps te beskryf en in Standaardafrikaans en Engels te vertaal. Dit beskik oor die potensiaal om ’n kernbron in die akademie te word en Kaaps-leerlinge met skryftaal by te staan. Indien die projek suksesvol is, sal dit hoogs waarskynlik veral die kunste, godsdienste en politiek vir Kaapssprekers transformeer. Williams hoop ook dat dit ’n impak op ander histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans sal hê.
[Bron: LitNet]