
Sop en Dop met StudentePlein
- 24 Augustus 2021
Kanja van der Merwe
Op Donderdag 19 Augustus om 17:30 het StudentePlein ’n Sop en Dop-aand gehou op die dak van ons kantoorblok in Dorpstraat, Huis Lucy, met die doel om ’n glasie op die tweede semester te klink. Ons is bevoorreg dat ons verskeie nuwe lede by hierdie geleentheid kon ontmoet.
Die gesellige atmosfeer is geskep met behulp van verskillende soorte sop wat die dames van La Clémence vir die geleentheid gemaak en geskenk het. Hulle het behoorlik uitgehaal en gewys deur met botterskorsie-, groente-, boontjie-, aartappel- en wortelsop te spog. Hermanuspietersfontein het ook ’n groot skenking van 18 bottels van hul gewilde 2017 Kleinboet rooiwyn vir die geleentheid gemaak. Te danke aan die warm vuur, sop, rooiwyn en geselskap was daar geen klagtes nie.
Tussendeur die Afrikaanse treffers (dankie DJ van Dyk) het direkteur Frederik van Dyk ’n informele verwelkomingstoespraak gelewer. Hy het vertel wat ons waarde-aanbod by StudentePlein is en hoe studente by ons betrokke kan raak en ons dienste en geleenthede kan benut. Daar is geen voorwaardes om by StudentePlein aan te sluit nie, ons skep net ’n gemeenskap van Afrikaanssprekende studente wat lief is vir hul taal en dit wil laat voortleef en floreer. Ons poog om ’n herwaardering vir Afrikaans in die sosiale, akademiese en kulturele sfeer te bewerkstellig.
Om af te sluit, het ons aan koesusters van Mariam’s Kitchen gepeusel. Dié geurige klapperdonuts is afkomstig uit die Kaaps-Maleise gemeenskap en word dikwels met koeksusters verwar, hoewel dit heeltemal verskillend is.
Lede van StudentePlein sowel as lede van die publiek kan vir verdere geleenthede in die toekoms uitkyk. Studente kan by www.studenteplein.co.za registreer om amptelik lid te word en op hoogte van ons aktiwiteite te bly. Lidmaatskap is 100% gratis en dit gee vir studente toegang tot ons studiemateriaal en ons geleenthede soos werkswinkels, kompetisies en werkskaduprogramme.