StudentePlein eis dat US Senaat onregmatige afwykings van Taalbeleid stopsit
- 8 September 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein het vandag ‘n prokureursbrief aan die Voorsitter van die US-senaat, prof. Wim de Villiers, gestuur waarin geëis word dat verdere onregmatige afwykings van die US se Taalbeleid, waarvolgens klasse slegs in Engels aangebied word, stopgesit word. Dit kom nadat verskeie klagtes van lede in verskillende fakulteite in die tweede semester ontvang is wat beweer dat sogenaamde “dubbelmedium” klasse slegs in Engels aangebied word. Die aanbied van slegs Engelse klasse blyk gedoen te word kragtens ‘n afwyking van die US-taalbeleid wat vroeër vanjaar deur die Senaat goedgekeur is, maar op onwettige wyse geneem is en veronderstel was om slegs vir die eerste semester van krag te wees.
Verskeie rekords, onder meer ‘n klankopname van ‘n vergadering vroeër vanjaar van die Akademiese Beplanningskomitee – ‘n subkomitee van die Senaat – dui daarop dat die US se besluit om van die Taalbeleid af te wyk vir die eerste semester van 2021 deur klasse net in Engels aan te bied, geneem is sonder om die voorgeskrewe prosedures te volg, wat dus onregmatig is.
Die rekords, wat StudentePlein kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting by die US ingepalm het, openbaar dat ‘n blanko-afwyking van fakulteite se taalimplementeringsplanne deur die Senaat goedgekeur is weens “Covid-19” sonder dat fakulteite dit versoek het of vir goedkeuring voorgelê het. Die Taalbeleid vereis egter dat afwykings van fakulteite se taalimplementeringsplanne eers op fakulteitsvlak hanteer moet word, en dan aan die Senaat voorgelê moet word. ‘n Mediaverklaring van die US op 10 Maart 2021 beweer dat fakulteite die afwykings van die Taalbeleid versoek het. In werklikheid het die Uitvoerende Komitee van die Senaat hierdie besluit geneem sonder dat fakulteite dit versoek het.
“Die US het in tye van akademiese nood en ten opsigte van nuwe eerstejaars in gebreke gebly om sy eie taalbeleid te volg, en blanko wegdoenings met Afrikaans van Senaatsvlak na fakulteite laat afwentel, terwyl die Taalbeleid juis vereis dat sulke gewigdraende besluite eers op fakulteitsvlak gemotiveer moet word en dan vir goedkeuring na die Senaat verwys moet word om op fakulteit-vir-fakulteit basis oorweeg te word,” sê Tian Alberts, direkteur by StudentePlein.
StudentePlein het verder verneem dat die Uitvoerende Komitee ten opsigte van die tweede semester van 2020 op insgelyke onregmatige wyse besluit het dat daar van die taalbeleid afgewyk mag word in fakulteite, en dat klasse “weens Covid” slegs in Engels aangebied mag word.
“Dit blyk nou dat die Senaat vir twee agtereenvolgende semesters op onregmatige wyse besluit het om van die US se Taalbeleid af te wyk deur op blanko basis fakulteite toe te laat om klasse wat veronderstel is om in Afrikaans en Engels aangebied te word, slegs in Engels aan te bied. Hierdie onregmatige afwykings, waarvoor daar nie in die Taalbeleid voorsiening gemaak word nie, word klaarblyklik steeds in sommige fakulteite geïmplementeer. StudentePlein eis daarom nou dat die Senaat fakulteite verplig om hul taalimplementeringsplanne voort te sit.”
StudentePlein het van die US versoek om teen 14 September te antwoord, en sal na gelang daarvan verdere stappe oorweeg.
“Die US se Taalbeleid, en sy beoogde opvolger in die vorm van die tweede konseptaalbeleid vir 2021, water reeds Afrikaans af tot ‘n versiering by die US. Dat selfs die mees geringe beskerming wat dit vir Afrikaanse studente bied so maklik in praktyk van kant gemaak kan word, beteken dat die enigste aanvaarbare nuwe taalbeleid by die US een sou wees wat voorsiening vir gelykberegtiging vir Afrikaans en Engels maak.”