
StudentePlein huldig twee groot Afrikaanse skryfkunstenaars
- 13 September 2021
Hierdie Septembermaand groet ons twee groot Afrikaanse skryfkunstenaars, Jacob Cornelius “Jaap” Steyn (31 Julie 1938-3 September 2021) en Pieter Johannes Fourie (3 April 1940-12 September 2021).
Jaap Steyn was een van Afrikaans se mees indrukwekkende biograwe. Hy het in ’n kenmerkende onderhoudende styl sonder fraaiings met ’n waardering vir integriteit, eenvoud en intellek geskryf. Sy eerste en enigste digbundel genaamd Die grammatika van liefhê (1975) is in dieselfde klas as Breytenbach, waarvoor hy met die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys vereer is. Sy lojaliteit aan Afrikaans was sy grootste passie, waar hy die boek Tuiste in eie taal (1980) gepubliseer het. Dit handel oor die ontwikkeling van Afrikaans van ’n kombuistaal tot ’n kultuurtaal en is ’n klassieke naslaanbron vir belangstellende lesers. Jaap is ses keer deur Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon en in 2004 ken die Universiteit van die Vrystraat ’n eredoktorsgraad aan hom toe. Hy gee sy outobiografie, Sonkyker, in 2008 uit en sy jongste publikasie is Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare Afrikaans (2014).
Pieter Fourie was ’n noemenswaardige Afrikaanse dramaturg. Sy kreatiewe werk het vlamgevat toe hy gedigte in tydskrifte soos Standpunte, Sestiger en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer het. Sy eerste gepubliseerde drama was Hansie Die Hanslam (2004), ’n kinderdrama wat baie gewildheid verwerf het. In sy bekendste skryfstuk, Faan se trein (1975), skep hy uitstekende volksteater en die stukke word dekades later steeds opgevoer. In 2003 ontvang hy die Hertzogprys vir sy drama oeuvre en in 2010 word hy by die KKNK met die Afrikaans Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae vereer. In 2014 word die film van Faan se trein vrygestel, wat met nege toekennings by die KykNet Silwerskerm-fliekfees vereer is. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vir Pieter drie keer bekroon en die Universiteit van die Vrystaat ken in 2011 ’n eredoktorsgraad in drama aan hom toe. Faan se trein (2014) is in 2015 met twee Saftas bekroon.
[Bronne: LitNet, Maroela Media]