StudentePlein liasseer hofstukke in taalsaak teen US
- 21 Oktober 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein, tesame met die DA en studente van die Universiteit van Stellenbosch (US), het vandag hofstukke geliasseer om die US-bestuur se verwaarlosing van Afrikaans te stuit. Die hofaansoek het ten doel om die US-bestuur se repudiëring van hul eie Taalbeleid, wat nou al vier semesters lank voortduur, stop te sit en hul te verplig om weer nuwe leermateriaal in Afrikaans te voorsien. Die Senaat het oor die laaste vier semesters besluit dat daar nie meer nuwe leermateriaal in Afrikaans in die US se klasse voorsien moet word nie.
Die applikante – StudentePlein en die DA – doen aansoek om die saak op die sogenaamde semi-dringende rol ter rolle te plaas, sodat die US deur die hof verplig kan word om met die ingang van die volgende semester sy taalbeleid korrek toe te pas. Die regshulp vra dat:
- Die Senaat se besluite oor die afgelope vier semesters dat alle fakulteite kan afwyk van hul taalplanne deur nie nuwe leermateriaal in Afrikaans aan te bied nie, onregmatig en ongrondwetlik verklaar word;
- Die Senaat se besluit dat nuwe leermateriaal nie in die huidige semester in Afrikaans aangebied moet word nie, ter syde gestel word;
- Die US gelas word om met die ingang van die nuwe semester en in die toekoms, sy taalbeleid korrek toe te pas en nie Afrikaans verder af te water nie.
StudentePlein meen dat alhoewel die huidige taalbeleid weinig beskerming vir Afrikaanse studente bied, dit steeds belangrik is dat die taalbeleid nie deur die Senaat geïgnoreer moet word nie en dat Afrikaanse studente minstens moet kry wat hul kragtens die beleid toekom.
“’n Oorwinning in hierdie hofsaak sal nie ’n meer regverdige taalbedeling vir Afrikaanse studente by die US teweegbring nie, maar wel tydelike verligting bring en verantwoordbaarheid laat seëvier. StudentePlein sal aanhou om in die belang van lede en Afrikaanse studente in die algemeen die US-bestuur verantwoordbaar te hou, en om Afrikaanse studente met die nodige studiemateriaal en akademiese mentorskap by te staan.”
“StudentePlein spreek sy innige dank teenoor die DA asook US-studente uit vir hul onontbeerlike, moedige bydraes in hierdie saak.”