StudentePlein vat US hof toe oor onregmatige verwaarlosing van Afrikaans
- 18 Oktober 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein, tesame met die Demokratiese Alliansie en studente van die Universiteit van Stellenbosch (US), sal Maandag ’n hofaansoek in die Hooggeregshof in Kaapstad teen die US bring om laasgenoemde te dwing om hul eie taalbeleid korrek te implementeer en ook die verwaarlosing van Afrikaans stop te sit.
Die hofaansoek spruit uit ’n StudentePlein-ondersoek wat bevind het dat die US al reeds vir vier agtereenvolgende semesters sy taalbeleid ignoreer deur alle fakulteite op senaatsvlak te magtig om nie nuwe leermateriaal in Afrikaans aan te bied nie. StudentePlein het verlede maand in ’n skrywe aan die US vir ’n onderneming gevra dat geen verdere onregmatige afwykings van hul taalbeleid sal geskied nie, waarop hulle ontkennend gereageer het en geweier het om ’n onderneming te gee om verdere onregmatige afwykings stop te sit.
“Dit het vir StudentePlein duidelik geword dat die US eerder ontwykend en ontkennend wil omgaan met hul eie repudiëring van hul taalbeleid en verwaarlosing van Afrikaans as onderrigtaal, as om foute reg te stel en nadeel vir Afrikaanse studente te versag. Omdat briewe skryf en gesprekvoering nie meer help nie, is dit ongelukkig nou nodig om die hof te nader om studente se regte te beskerm,” sê Tian Alberts, direkteur by StudentePlein.
StudentePlein en die ander applikante in die saak vra die hof om die US te gelas om hul taalbeleid korrek te implementeer en weer nuwe leermateriaal in Afrikaans beskikbaar te stel soos die taalbeleid en fakulteite se taalimplementeringsplanne vereis.
“Hierdie hofaansoek is ’n eerste stap om onmiddellike verligting te bring vir die meer as 8000 studente by die US wat verkies om toegang tot kennisbronne in Afrikaans te ontvang. StudentePlein fokus egter hoofsaaklik op die voorsiening van Afrikaanse e-leermateriaal aan lede sodat hulle ’n volwaardige studie-ervaring in Afrikaans kan geniet. Dit is jammer dat tyd en hulpbronne nou op litigasie bestee moet word omdat die US hul eie reëls buite-om die taalbeleid vir die afskaffing van Afrikaans maak.”
StudentePlein meen dat alhoewel die huidige taalbeleid weinig beskerming vir Afrikaanse studente bied, dit steeds belangrik is dat die taalbeleid nie deur die Senaat geïgnoreer moet word nie en dat Afrikaanse studente minstens moet kry wat hul kragtens die beleid toekom.
“’n Oorwinning in hierdie hofsaak sal nie ’n meer regverdige taalbedeling vir Afrikaanse studente by die US teweegbring nie, maar wel tydelike verligting bring en verantwoordbaarheid laat seëvier. StudentePlein sal aanhou om in die belang van lede en Afrikaanse studente in die algemeen die US verantwoordbaar te hou, en om Afrikaanse studente met die nodige studiemateriaal en akademiese mentorskap by te staan.”