
Taalskande in US-koshuise: StudentePlein sluit verstandhouding met Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG)
- 21 Maart 2021
ʼn Vergadering het op 19 Maart tussen direkteure van StudentePlein en mnr. Pieter Kloppers van die Sentrum vir Studentegemeenskappe plaasgevind. StudentePlein het onderneem om basiese besonderhede van taalklagtes, rondom die verdrukking van Afrikaans in studentegemeenskappe, met die SSG te deel, sodat daar ‘n behoorlike ondersoek en regstelling kan plaasvind. Dit is wel StudentPlein se posisie dat sodanige inligting net gedeel kan word in sover die SSG aan StudentePlein se prosedurele eise oor ondersoeke na taaldiskriminasie voldoen, naamlik: oorsig oor die ondersoek, ʼn oudit van alle studentegemeenskappe oor taalpraktyke, opleiding rakende meertaligheid, en regstelling van onregte.
Deur inligting oor taalwanpraktyke te deel, sal die SSG ʼn ondersoek oor die voorvalle in onder andere Irene, Minerva, Huis Francie van Zijl en die AmaMaties kluster van gemeenskappe kan loods. Dit sal hulle in staat stel om die reikwydte van misverstande, asook moedswillige optrede jeens moedertaal deur studenteleiers, te peil. Die inligting sal ook as roetekaart kan dien om ʼn oudit van koshuis- en PSO-gemeenskappe van stapel te stuur, sodat die vlak van onkunde oor meertaligheid bepaal kan word. Daarvolgens sal beter opleiding rondom die hantering van meertalige omgewings in leierskapsopleidingsprogramme vir huisleiers bygewerk kan word. Ook hier sal StudentePlein ʼn inset kan lewer. Laastens het mnr. Kloppers onderneem dat regstelling in die geaffekteerde studentegemeenskappe moet plaasvind. Dit kom daarop neer dat huisleiers aan studente om verskoning sal moet vra waar gevalle van taalonderdrukking bevind word. Dit behels ook dat die gees van verleentheid en vrees aktief teëgewerk moet word. Dit mag ook dissiplinêre optrede insluit na gelang van die geval.
Sou StudentePlein van mening wees dat die SSG of Afdeling: Studentesake nie besig is om daadwerklike ondersoeke te doen of strukturele veranderinge aan meertaligheidsbestuur aan te bring nie, sal ons eerder buite-kanale moet gebruik om ons lede te beskerm. Ons verseker lede dat ons nie bereid is om leë woorde en ʼn versuim om op te tree, goedsmoeds sal aanvaar nie.
StudentePlein is nie heeltemal tevrede met verduidelikings waarom die voorvalle van taaldiskriminasie tydens verwelkomingsweek nie met dieselfde erns en inisiatief as geskiedkundige verwelkomingsvoorvalle hanteer is nie. Ons aanvaar wel dat die SSG graag ʼn nuwe koers wil inslaan. Hierdie is immers ʼn gulde geleentheid om strukture vir die behoorlike bestuur van veeltalige leefomgewings op te rig, pleks daarvan om die onregmatige en ondeurdagte slegs Engels-benadering te handhaaf. Ons onderneem aan ons lede dat ons ʼn fyn en kritiese oog oor elke stap van die oorsig, oudit, opleiding en regstellingsprosesse sal hou. Ons moedig ook ons lede en alle studente aan om ons by te staan in ons werk om die US-bestuur op hierdie wyse verantwoordbaar te hou.