Tyd om opnuut te listen by US – StudentePlein
- 24 Junie 2021
StudentePlein het Woensdagaand by ons kantore in Stellenbosch ’n dokumentêre film bekendgestel wat oor Afrikaanse studente se ervaring by Stellenbosch handel. Dié film, Listen, duur 20 minute lank en dek temas soos die akademiese belange van Afrikaanse studente, die aftakeling van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch en die afdwing van Engelstaligheid in die studentelewe.
“Die getuienis in hierdie film is tekenend van die wankelrige plek wat Afrikaans by die US het, van die sistemiese aftakeling van Afrikaans as ryke akademiese medium, en van die minagting van studente se taalbehoeftes. Die US-bestuur het oor die afgelope ses jaar Afrikaans doelbewus afgeskaf en die gevolge daarvan spreek vanself in die film,” lui ’n verklaring van StudentePlein.
Die film se titel, Listen, sinspeel op die titel van die video Luister wat in 2015 geskep is om uiting te gee aan studente se ervarings rondom beweerde gevalle van uitsluiting deur Afrikaans.
“Die doel van Listen is nie om die weergawes en ervarings in Luister te negeer of te verkleineer nie. Inteendeel, Luister was op sy tyd tekenend van belangrike gesprekke oor taal en taalbeleid by die US. Ses jaar daarna het die landskap op die US-kampus egter dramaties verander. Die pendulum is te ver in die ander rigting geswaai en dit is van voor af tyd om na nuwe ervarings en werklikhede te luister.”
StudentePlein gaan die US se Transformasiekantoor met ’n versoek nader om met dieselfde ywer tot die verspreiding van Listen by te dra as met die verspreiding van Luister. In reaksie op die Demokratiese Alliansie se feitesending op kampus oor die verbod op Afrikaans in koshuise, het die Transformasiekantoor vroeër vanjaar in samewerking met Open Stellenbosch bewusmaking rondom die bestaan van die 2015-film, Luister, geskep.
“Dit sal interessant wees om te sien of die Transformasiekantoor die ervarings van alle studente ewe ernstig sal opneem.”
Die ervarings in Listen is egter net ’n druppel in die emmer aangesien baie Afrikaanse studente met die ervarings kan vereenselwig, maar nie noodwendig bereid is om op ’n film te verskyn nie.
“Om mee te begin, is daar verskeie StudentePlein-lede wat by die ervarings in die film aanklank vind, maar wat nie gemaklik is daarmee om op ’n openbare platform daaroor te praat nie. Dit is heeltemal verstaanbaar gegewe die indruk wat reeds op Stellenbosch gewek is, naamlik dat dit agteraf en verdelend is om aan gesprekke oor Afrikaanse taalkwessies deel te neem. Dit is ’n narratief wat spoedig besig is om te verander – ’n nuwe generasie studente en voornemende studente het sterk gevoelens oor die betekenis van taal.”
Die dapperheid en grootsheid van gees van die studente wat wel in Listen verskyn, behoort die Afrikaanssprekende gemeenskap tot selfs dieper deelname aan die taaldebat aan te spoor.