Uitvoerende Komitee van US se Senaat stem vir afskaffing van Afrikaanse onderrig ten spyte van sterk opposisie deur senaatslede, studente en gemeenskapsleiers
- 19 Maart 2021
Die studenteorganisasie StudentePlein neem kennis van die Uitvoerende Komitee (“UK”) van die US Senaat se besluit om fakulteite se versoeke om nuwe modules vanjaar in slegs Engels aan te bied, toe te staan. Hierdie besluit is geneem ten spyte van betoë van senaatslede, studente en gerespekteerde gemeenskapleiers- en organisasies dat die besluit geweldige negatiewe implikasies vir Afrikaanse studente se akademiese loopbaan sal inhou. Die Senaat het nie die geleentheid gehad om oor die kwessie te stem nie, en moes die UK se besluit aanvaar. Hierdie “tydelike” afskaffing van Afrikaans is allermins tydelik, en die UK van die Senaat, sowel as fakulteite, weet baie goed dat studente wat eers met studies in Engels afskop, nooit na Afrikaans sal kan oorskakel nie.
Die fakulteite se oppering van Covid-19 verwante redes as ’n verskoning vir hierdie ondeurdagte versoek kan nie sonder meer aanvaar word nie. Die besluit om eerstejaarstudente wat beoog het om vanjaar in Afrikaans te studeer, se geleentheid om in Afrikaans te studeer op te skort, hou ernstige implikasies vir daardie studente se akademiese loopbane in. Studente se behoefte daaraan om in ’n bepaalde taal te studeer kan nie blootweg “afgeskakel” word wanneer fakulteite arbitrêr besluit om vir welke rede ook al nie meer onderrig in daardie taal aan te bied nie. Die realiteit vir ’n beduidende hoeveelheid StudentePlein lede is dat hulle nie ’n voldoende studie-ervaring in Engels kan hê nie, ongeag die besluit van die UK. Dit is noemenswaardig dat hierdie lede op die voorwendsels van studies in Afrikaans na die US gelok is.
Daar bestaan geen twyfel dat indien fakulteite werklik ’n plan wou maak om Afrikaanse aanbod in nuwe modules in te bou, hulle dit sou kon doen nie. Die feit dat die US hom verlede jaar weens Covid-19 vir aanlynstudies moes rat, bied eerder juis ’n geleentheid om gemakliker en op ’n meer koste-effektiewe wyse kursusaanbod in meer as een taal aan te bied. Dieselfde fakulteite wat ’n paar jaar gelede nog parallelmediumklasse in fisiese ruimtes aangebied het, kan beswaarlik aanvoer dat hulle nie selfs ’n opsommende stemopname in Afrikaans vir klasse in nuwe modules kan behartig nie. Hierdie besluit en sy agtergrond getuig van ’n moedswillige ongeërgdheid jeens Afrikaans se plek in die openbare studie- en navorsingsomgewing van die US.
StudentePlein verteenwoordig lede in nege fakulteite en sal nie huiwer om die skadelike uitwerking van vandag se besluit op verskeie maniere teen te staan nie, insluitend deur die howe te nader waar fakulteite eenvoudig weier om behoeftige Afrikaanse studente tegemoet te kom.
Die UK van die Senaat se besluit vandag kom teen die agtergrond van klagtes in verskeie koshuise en op selfs meer as een kampus van die US, d.i. dat studente geforseer word om slegs in Engels te kommunikeer, selfs in informele ruimtes waar daar net Afrikaanssprekende studente teenwoordig is.
StudentePlein het vandag ’n dossier aan die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe met besonderhede oor klagtes van lede oorhandig, en het onderneem om die US by te staan met die verstrekking van die nodige inligting op ’n wyse wat ons lede teen viktimisering beskerm.