
Welluidende woorde in US se tweede konseptaalbeleid verander niks aan studente se realiteit – StudentePlein
- 26 Julie 2021
Welluidende woorde en ‘n oënskynlik nuutgevonde verbintenis tot meertaligheid, wat slegs in nie-operasionele bepalings van die US se tweede konseptaalbeleid manifesteer, sal niks verander aan Afrikaanse studente se realiteit op kampus en in klasse nie. Dít is studenteorganisasie StudentePlein se standpunt oor die US se onlangs gepubliseerde tweede konseptaalbeleid.
“Normatiewe en akademiese verduidelikings van die belang van meertaligheid in die tweede konsepbeleid skep bloot meertalige verbintenisse in die abstrak. Wanneer dit by die operasionele, praktiese bepalings oor die toepassing van taalbeleid in klasse en koshuise kom, het bykans niks verander vergeleke met die huidige 2016-taalbeleid nie. Die 2016-taalbeleid het op ‘n skadelike wyse Afrikaans in klasruimtes laat verdwyn en in sommige gevalle tot ‘n verbod op die gebruik van Afrikaans gelei,” sê Tian Alberts, direksielid van StudentePlein.
StudentePlein het verlede maand ‘n dokumentêre film, Listen, gepubliseer, wat die ervarings van Afrikaanse studente onder die huidige 2016-taalbeleid dokumenteer.
“Die ervarings van Afrikaanse studente is dikwels sinoniem met dwang om na Engels oor te skakel, vrees om Afrikaans in klasse en leefruimtes te gebruik, en ‘n ontegemoetkomende optrede van fakulteite wanneer dit by die gebruik van Afrikaans kom. Die mees onlangse konseptaalbeleid sal niks in hierdie opsig verander nie; terwyl Engelse aanbod deurgaans gewaarborg word, is daar steeds geen waarborg vir Afrikaans en geen verbintenis tot volwaardige Afrikaanse aanbod in klasse nie.”
Taalimplementeringsverslae wat StudentePlein kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting verkry het, dui daarop dat taalimplementering onder die 2016-beleid uiters gebrekkig is, en dat die meganismes om taalklagtes aan te spreek heeltemal onvoldoende is.
“Die 2016-beleid en die taalimplementeringsmeganismes wat daardeur in die lewe geroep is, het die effek in praktyk dat die bykans algehele verdwyning van Afrikaans by die US doeltreffend deur burokratiese verslagdoening en omslagtige klagteprosedures verdoesel kan word, wat studente ontmoedig om hul misnoeë bekend te maak. In dié opsig is die nuwe konseptaalbeleid ook gebrekkig omdat dit nie voorsiening vir proaktiewe meganismes maak om pedagogiese behoeftes sinvol aan te spreek nie”, sê Alberts.
StudentePlein het op grond van peilings en ander data breedvoerige voorstelle vir die proaktiewe hantering van taalbehoeftes in die kommentaar op die eerste konsepbeleid gemaak, maar niks hiervan manifesteer egter in die tweede konsepbeleid nie.
Die operasionele bepalings is steeds volgens die mantra opgestel dat die Afrikaanse aanbod in onderrig en navorsing afhanklik van studente aanvraag en redelikerwyse uitvoerbaarheid is. Hierdie mantra maak dit vir die US-bestuur moontlik om hul selfgeskepte afwatering van die Afrikaanse aanbod, en daaropvolgend die afnemende belangstelling in Afrikaanse studies, as verskoning vir die stelselmatige uitskakeling van Afrikaans as akademiese taal te opper.
“Sedert die 2016-taalbeleid aanvaar is, het die sistemiese en doelbewuste onsekerheid van die kwaliteit en kwantiteit Afrikaanse aanbod regstreeks tot ‘n merkbare afname in die aanvraag na Afrikaanse studiemateriaal gelei. Gekoppel met die taalbeleid se onvermoë om Afrikaansmagtige doseerpersoneel-aanstellings te verseker (veral personeel wat ook met die Afrikaanse variante van die Kaapprovinsies vertroud is) en die US-bestuur se doelbewuste werwing van Engelssprekende studente uit Engelssprekende, bevoorregte gemeenskappe in Suid-Afrika, het die US-bestuur self die toestande bewimpel wat akademiese Afrikaans aftakel,” sê Frederik van Dyk, direksielid van StudentePlein.
StudentePlein merk op dat die spyker in die doodskis operasionele bepalings is wat die Afrikaanse aanbod se voortbestaan as “keuse” van die studenteliggaam voorhou, terwyl die US-bestuur goed weet dat daar geen vrye keuse onder dié omstandighede ter sprake kan wees nie.
Operasionele bepalings wat ernstig oor akademiese veeltaligheid met inbegrip van Afrikaans is, moet:
- Afrikaansmagtige dosente uit plaaslike gemeenskappe aanstel en jong akademici van hierdie kaliber ontwikkel;
- Veeltalige studies en navorsingsuitsette beloon en aanmoedig;
- Nagraadse verhandelinge in institusionele tale buiten Engels spesifiek beloon en aanmoedig;
- Positiwiteit in voor- en nagraadse klasse rondom veeltalige akademiese opleiding laat heers;
- Op veeltalige senior studente staatmaak om ‘n groter rol in die leer en onderrig van nuwelinge te speel;
- Parallelmedium-onderrig vanuit ‘n herwaardering vir die maatskaplike geregtigheid laat groei, wat deur moedertaalonderrig meegebring word.
“Hoewel die mooipraatjies oor veeltaligheid en taalpositiwiteit in die aanhef van die konseptaalbeleid ‘n belangrike progressie is, beteken dit niks indien daar geen verbintenis tot die opleiding van studenteleiers is om die miskenning van taalregte, soos deur studentegemeenskappe in 2021 beleef is, te identifiseer en te vermy nie,” sê Van Dyk.
StudentePlein meen dat personeel en studenteleierskap proaktief tot veeltaligheid verbind moet wees en die beste praktyke moet aanleer waarvolgens die veeltalige studentelewe geniet kan word. Daadwerklike gevolge moet uitgestippel wees indien US-amptenare, insluitend studenteleiers, versuim om taalregte proaktief te erken.
“StudentePlein sal aanhou om, in die belang van lede en die breër Afrikaanse studentegemeenskap, die US verantwoordbaar te hou rakende die gebruik van Afrikaans in klasse en leefruimtes. Enige taalbeleid wat nie in praktyk voorsiening vir gelykberegtiging vir Afrikaans en Engels maak nie, moet verwerp word.”