StudentePlein vier Afrikaans se eeufees en Moedertaaldag
Op 21 Februarie het ons met trots ons Moedertaal gevier as deel van die ongeveer 7 miljoen mense wat Afrikaans as Moedertaal koester. Ter viering van Internasionale Moedertaaldag het ons Afrikaanssprekendes genooi om hulle gunsteling Afrikaanse woorde met ons te deel. StudentePlein het hierdie taaljuwele saamgevat in 'n video wat op sosiale media gedeel is. Sodoende ondersteun ons die Internasionale Moedertaaldag-inisiatief wat daarop gemik is om veeltaligheid te bevorder en die diverse ontwikkeling van tale te beklemtoon.
Vir StudentePlein was dit ons afskop van die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal waarby ons ons met trots skaar. Op 8 Mei 1925 is Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika erken. Vanjaar, 100 jaar later, is Afrikaans saam met tien ander tale steeds ʼn amptelike taal. Afrikaans is vandag nog net so lewenskragtig en StudentePlein is ʼn voorbeeld daarvan: ʼn trotse Afrikaanse organisasie wat vir Stellenbosch studente ‘n tuiste in hul moedertaal skep.
Die amptelike eeufeesviering van Afrikaans, vind plaas 8 tot 11 Mei in die Wes-Kaap en 22 tot 29 Mei in Gauteng. StudentePlein sien uit om ons Moedertaal te vier en deel te wees van die feesverrigtinge. Afrikaans is ons almal s'n! Ons gryp die kans aan om saam met Afrikaans die toekoms tegemoet te gaan. Afrikaans100 bied jou allerlei maniere waarop jy deel kan word van die eeufeesvieringe. Besoek gerus www.afrikaans100.org vir meer besonderhede oor die feesprogram.