Afrikaanse debat leef op Stellenbosch: StudentePlein-spanne slyp hul debatvaardighede
Op Saterdag 15 Augustus het StudentePlein se debatteerders hul argumente, navorsing en retoriek op die proef gestel tydens die StudentePlein-debatskompetisie.
Vir die geleentheid het StudentePlein se debatspanne teen sterk opposisie van Dagbreek te staan gekom. Dagbreek het vroeër vanjaar uitstekend by AfriForum se nasionale Dink of Sink-onvoorbereide debatskompetisie gevaar, terwyl StudentePlein self ook vier spanne, bestaande uit 16 sprekers, na die kompetisie gestuur het. Twee StudentePlein-spanne het tot die top agt deurgedring en een span het ’n plek in die halfeindronde losgeslaan.
Hoewel Saterdag se byeenkoms ’n kompetisie was en die wenners met pryse en sertifikate weggestap het, was die fokus nie bloot op die uitslag nie. Die geleentheid is doelbewus gebruik om die debatteerders se vaardighede te slyp deur hulle aan sterk opposisie bloot te stel en uitgebreide terugvoer van ’n ervare beoordelaarspaneel te gee.
Aktuele kwessies onder die vergrootglas
Tydens die debat moes die spanne hul staal wys met die mosie:
“Hierdie Huis sal privaatgesondheidsorg verbied sodra die NGV in werking tree.”
Die onvoorbereide formaat het vereis dat die spanne binne ’n beperkte tyd die mosie moes ontleed, navorsing doen, hul standpunte formuleer en as ’n span ’n samehangende saak bou.
Hierdie tipe aktuele en uitdagende mosies vorm ook deel van die spanne se verdere voorbereiding. In komende oefensessies sal die debatteerders onder meer hul argumente rondom mosies soos die volgende slyp:
- Hierdie Huis glo dat die EFF ’n positiewe invloed op die Suid-Afrikaanse politiek het.
- Hierdie Huis sal alle bek-en-klouseerbeheermaatreëls ophef en die siekte vrylik laat versprei.
- Hierdie Huis sal ’n verpligte brandstofheffing instel om ’n nasionale stabilisasiefonds teen prysskokke te skep.
- Hierdie Huis sal nasionale regeringsmagte ten volle na provinsiale vlak desentraliseer.
- Hierdie Huis sal die gebruik van kunsmatige intelligensie in alle professionele kwalifiserende eksamens toelaat.
Deur uiteenlopende politieke, ekonomiese, tegnologiese en maatskaplike kwessies aan te pak, word die debatteerders aangemoedig om buite hul eie belangstellingsvelde te dink, vinnig betroubare inligting te vind en ’n oortuigende argument te bou.
Ervare beoordelaars; deeglike terugvoer
’n Belangrike deel van die kompetisie was die uitgebreide terugvoer van die drie beoordelaars: Nicolene Smith, Megan Kruger en Marlé-Zanne Barnard.
Nicolene Smith het uitgebreide ervaring in redenaars en debat en koördineer reeds agt jaar AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereide debatskompetisie op laer-, hoërskool- en universiteitsvlak. Sy bied ook opleiding aan met ’n besondere fokus op die voorbereiding vir onvoorbereide debat. Smith het ’n graad in Kriminologie, asook sertifikate in Forensiese Linguistiek, Projekbestuur en Transkribering, en is tans besig om haar LLB-graad te voltooi.
Megan Kruger, ’n finalejaar-regstudent aan die Universiteit Stellenbosch, bring op haar beurt jare se ervaring as beide StudentePlein-debatteerder en afrigter na die paneel. Sy was van 2019 tot 2022 vier agtereenvolgende jare saam met haar span ’n nasionale Dink of Sink-wenner en het in 2022 ook die ATKV-debatfinaal gewen. In 2025 was sy weer deel van die nasionale Dink of Sink-wenspan en is sy as Beste Spreker aangewys. Kruger is reeds vier jaar lank as debatafrigter by die Afrikaanse Hoër Meisieskool en Hoërskool Stellenbosch betrokke en het ook verskeie debatskompetisies beoordeel.
Marlé-Zanne Barnard, die Operasionele Hoof van StudentePlein Metakampus, is ’n PhD-kandidaat in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het haar MA-graad in Afrikaans en Nederlands cum laude voltooi en is in 2023 as die beste honneursstudent in Afrikaans en Nederlands aangewys. Deur haar werk by StudentePlein is sy reeds vir verskeie jare betrokke by die organisering en ontwikkeling van Afrikaanse studentedebat, die koördinering van StudentePlein se deelname aan nasionale kompetisies en die ontwikkeling van studentesprekers.
Die kaliber en uiteenlopende akademiese agtergronde van die beoordelaars het beteken dat die terugvoer veel verder as ’n puntestaat gestrek het. Ná die debat is die spanne se optredes in diepte ontleed, met konkrete terugvoer wat die debatteerders en hul afrigters nou in verdere voorbereiding kan toepas.
Onder die belangrikste ontwikkelingspunte was brongebruik, begrips- en mosieontleding, retoriek, taal en lewering, die strategiese gebruik van punte van inligting (PVI’s), relevante voorbeelde en samehorigheid binne die span.
Die afrigters sal dié terugvoer in verdere oefensessies inkorporeer om die spanne se sterk punte verder uit te bou en doelgerig aan ontwikkelingsareas te werk.
’n Tuiste vir Afrikaanse studentedebat
Die belangstelling wat StudentePlein onder studente in Afrikaanse debat ervaar, wys dat daar steeds ’n behoefte aan hierdie tipe geleenthede op universiteitsvlak bestaan.
Afrikaanse debat word nie meer deur die formele kanale van die Universiteit Stellenbosch aangebied nie. StudentePlein poog daarom om hierdie gaping te vul vir studente wat op universiteitsvlak steeds in Afrikaans wil redeneer, debatteer en hul vaardighede verder wil ontwikkel. StudentePlein se debatprogram het juis ontstaan as ’n alternatief toe Afrikaanse spanne nie meer deur die Universiteit na nasionale kompetisies gestuur is nie.
Die doel is egter groter as bloot deelname aan groot nasionale kompetisies soos Dink of Sink. StudentePlein poog om ’n gevestigde Afrikaanse debatvereniging en debatkultuur in Stellenbosch te bou waar studente gereeld kan oefen, nuwe debatteerders ontwikkel kan word en ervare sprekers hul vaardighede verder kan slyp. Dit sluit aan by StudentePlein se breër doel om ’n Afrikaanse intellektuele ruimte te skep waar studente in hul moedertaal kan dink, debatteer en groei.
Die resultate wys reeds wat uit so ’n ruimte kan groei. StudentePlein het Dink of Sink in 2023, 2024 en 2025 gewen, met al drie StudentePlein-spanne wat in 2025 die top agt gehaal het en twee StudentePlein-spanne wat mekaar uiteindelik in die finaal aangedurf het.
Interne geleenthede soos dié op 15 Augustus vorm daarom ’n belangrike deel van die groter prentjie: om nie net spanne vir die volgende kompetisie voor te berei nie, maar om ’n volhoubare ruimte vir Afrikaanse studentedebat te vestig.
Volgende stop: Fontiespreke
Die werk stop nie by Saterdag se kompetisie nie. Die beoordelaars se terugvoer word nou deur die afrigters in verdere oefensessies geïnkorporeer, terwyl die spanne nuwe mosies aanpak en hul navorsing, strategie, samehorigheid en retoriek verder ontwikkel.
Een van die volgende groot mikpunte is Akademia se Fontiespreke, wat op 3 Oktober in Pretoria plaasvind.
Saterdag was dus nie bloot ’n geleentheid om ’n wenner aan te wys nie. Dit was nog ’n stap in StudentePlein se poging om studente se debatvaardighede te ontwikkel, nuwe sprekers die geleentheid te gee om hul staal te wys en verder te bou aan ’n lewendige Afrikaanse debatkultuur in Stellenbosch.