Terug na Artikels
Drie StudentePlein-spanne in top vyf – derde opeenvolgende Dink-of-Sink-titel vir StudentePlein
NuusImpak

Drie StudentePlein-spanne in top vyf – derde opeenvolgende Dink-of-Sink-titel vir StudentePlein

Webblad Outeur22 July 20255 min lees

StudentePlein is trots om te deel dat die StudentePlein-debatspanne vir die derde opeenvolgende jaar by AfriForum se nasionale Dink-of-Sink-universiteitsdebatkompetisie koning gekraai het.

Hierdie afgelope naweek, 18 en 19 Julie, het drie StudentePlein-debatspanne by Hoërskool Montana in Pretoria meegeding teen van die land se sterkste redenaars– en StudentePlein het gewys hoekom ons debatkultuur iets besonders is.**

Veertien spanne het aan die uitdunrondtes deelgeneem, onder meer van Akademia en die Universiteit van Pretoria, maar ons drie spanne het almal die top ag gehaal – ’n prestasie wat wyd opslae gemaak het.

Teen Saterdag was ons oorheersing onmiskenbaar toe drie van ons spanne hul plek in die top vyf verseker. Die finale het hierdie oorwinning bekroon met ’n alles-Stellenbosch-stryd: StudentePlein 1 teen StudentePlein 2.

Die tema van die debat was niks minder as gewigtig en aktueel nie: “Hierdie Huis glo dat die prioritisering van Engels as lingua franca in Suid-Afrika ’n voortsetting van koloniale hegemonie is, ten koste van ware meertaligheid en kulturele regverdigheid.” StudentePlein 1 *(Ignus Ferreira, Righardt Pretorius, Neelsie van Dyk en Stephan Ehlers) het as regering opgetree en ten gunste van die stelling geargumenteer, terwyl StudentePlein 2* (Megan Jones, Megan Kruger, Isabella Burgers en Simoné Shirley) die opposisie se saak verdedig het. Die debat, wat regstreeks uitgesaai is, het van begin tot einde die beste van Afrikaanse redenaarskuns gewys: skerpsinnige, weldeurdagte argumentasie en passie vir intellektuele gesprek.

Na ’n naelbyt-pouse waarin die beoordelaars hul besluit moes neem, is dit die damespan van StudentePlein 2 wat as algehele wenners aangewys is. StudentePlein 1 het ’n welverdiende tweede plek behaal, terwyl StudentePlein 3 hul eerste jaar met ’n ongelooflike plek in die top vyf afgesluit het. Dit is vir ons ’n besondere mylpaal – drie spanne in die top vyf by ’n nasionale universiteitskompetisie.

“Dit was baie lekker om te weet dat ons ’n nommer een en twee in die finaal gehad het omdat dit toe die finaal gemaklik gemaak. Ons kon net lekker sit en luister na die spanne sonder om oor ’n wen te bekommer; ons het darem geweet ons het ’n StudentePlein-wen in die sakkie,” vertel ons eie debat-afrigter, Milda van Dyk. Sy voeg opgewonde by: “Ons is opgewonde oor wat hulle (StudentePlein 3) gaan behaal omdat dit hulle eerste jaar van debat was en hulle nie regtig op skool aan debat deelgeneem het nie. Ons sien uit om hulle binne die volgende jaar of wat op die podium te sien.”

Die naweek het ook individuele roem gebring: Megan Kruger is aangewys as beste spreker van die toernooi, terwyl haar spanmaat Megan Jones die gesogte prys vir retoriek gewen het – nog ’n bewys van die gehalte wat ons debatprogram jaar na jaar lewer.

Megan Jones vertel hoe sy die ervaring beleef het: “Die waarde van dié debatkompetisie en my betrokkenheid by StudentePlein se debatvereniging is vir my die samekoms en vriendskappe wat dit fasiliteer, die ruimte wat dit skep vir leer en probeer, en die viering van Afrikaans as taal wat dit voorstaan. Om hierdie rede was my debat-ervaring ’n oorwinning die oomblik toe ek die laaste woorde (‘die krag van kommunikasie’) van my toespraak met selfversekerdheid en oortuiging kon sê, en nie toe ons as wenners aangekondig is nie. Ek is eintlik oorweldig met dankbaarheid dat ons spannetjie ’n pad met StudentePlein kon stap. Ons stap ryker in terme van ervaring en vriendskappe by hierdie kompetisie weg.”

Ons voorsitter, Tian Alberts, deel ook ons trots: “StudentePlein is uitermate trots op ons spanne wat met uitstaande gehalte oorheersende uitslae kon behaal op die nasionale studentedebatterrein. Dit is verkwiklik dat Afrikaanse studentedebat in Stellenbosch onder StudentePlein se sambreel kan voortleef en as baken kan dien vir uitstaande Afrikaanse intellektuele afronding, te midde van geldige kommernis oor ’n verlies daaraan onder Afrikaanse jongmense.”

Ons debatprogram is egter meer as net kompetisie en trofeë. Dit is doelbewus daarop gemik om jongmense toe te rus met vaardighede wat hulle vir die lewe voorberei. Soos ons dit self stel: “Ons glo sterk dat ons debatprogram studente ’n waardevolle geleentheid bied om hul kritiese denkvermoë, redenasievaardighede en openbare spreekvermoë te slyp – vaardighede wat noodsaaklik is in beide akademiese en professionele omgewings. Baie van ons sprekers is veral geïnteresseerd in regte en beoog om in die regsberoep of ander gesagsposisies hul loopbane voort te sit. Deur aan hoëvlak-debatte deel te neem, kry hulle nie net blootstelling aan gesofistikeerde argumentasietegnieke nie, maar word hulle ook voorbereid om as selfversekerde en ingeligte denkers die werkswêreld te betree.”

Ons stigterslid, Ruan Goosen, sê dit perfek: “Vir my is die debatspan ’n goeie illustrasie van hoe StudentePlein se model ’n suksesvolle en lewensvatbare alternatief vir studente gekweek het. In 2020 is ons deur ’n groep studente genader wat gesê het dat die universiteit nie bereid was om hulle na die Dink-of-Sink-kompetisie te stuur nie en vyf jaar later is ons ongetwyfeld die top universiteitdebatvereniging in Afrikaans. Ons het ’n lewensvatbare ruimte geskep waar studente hulself kan uitleef en nie net kan kompeteer nie, maar ook wenners in eie reg kan wees. StudentePlein probeer dieselfde model op verskeie gebiede volg waar die universiteit tekort skiet om Afrikaanse ruimtes te skep.”

Hierdie derde opeenvolgende oorwinning bevestig nie net ons posisie as een van die land se voorste Afrikaanse instansies nie, maar ook StudentePlein se plek as ’n kweekplek vir skerpsinnige, intellektuele Afrikaanse redenaars. En vir ons is dit meer as net ’n wen – dit is ’n viering van Afrikaans, van jongmense wat drome leef, en van gemeenskap.

Deel hierdie artikel

Ondersteun ons werk

Help ons om meer meer en beter te doen.