
Eerste semester eindig met dans, sport en saamwees – twee suksesvolle sosiale geleenthede op 29 April 2025
Met die eksamen om die draai het StudentePlein besluit om die eerste semester met entoesiasme en samehorigheid af te sluit – en dit is presies wat gebeur het tydens twee sosiale geleenthede, onderskeidelik op die Tygerbergkampus en in Stellenbosch. Hierdie geleenthede het nie net studente die kans gegee om te ontspan voor die aanvang van die eksamen nie, maar ook die noodsaaklikheid bevestig van Afrikaanse ruimtes waar kultuur, kuier en kameraadskap hand-aan-hand gaan.
Op die Tygerbergkampus, waar die meeste studente in die mediese rigting studeer en waar akademiese druk hoog is, het StudentePlein in samewerking met Huis Fancie, ’n sokkie aangebied. Nagenoeg 100 studente het saam gedans, gekuier en gelag. Die sukses van hierdie aand het bevestig dat daar ‘n definitiewe behoefte aan Afrikaanse studente-geleenthede op Tygerbergkampus is en StudentePlein is opgewonde om dié behoefte aktief te begin aanspreek.
Terwyl die mediese studente gedans het, het dinge ook op die padelbaan in Stellenbosch gebeur! StudentePlein het saam met Nerina-koshuis ’n padelgeleentheid by Club Padel aangebied – met Dagbreek wat ook geesdriftig aangesluit het. Weereens was daar ongeveer 100 studente teenwoordig en die kombinasie van oefening, gesels, sport en lag het vir ’n gemoedelike en ontspanne atmosfeer gesorg. Vir baie deelnemers was dit ’n eerste kennismaking met padel en die entoesiasme was aansteeklik. Dit was die soort geleentheid wat nie net bande versterk nie, maar ook kultuur laat herleef op ’n gemaklike en toeganklike manier.
Hierdie twee sosiale geleenthede bevestig weer dat Afrikaanse studente op kampus ruimte soek om hul taal en kultuur met vrymoedigheid te kan uitleef.
Met die eksamens wat op 19 Mei begin, was dit die ideale tyd om nog ‘n laaste keer asem te haal, saam te wees en nuwe energie op te bou. Nou is dit skouer aan die wiel sit. Ons wens elke StudentePlein-lid sterkte toe met die eksamen-voorbereidings. Onthou, ons is hier om julle te ondersteun. As jy akademiese hulp nodig het, kontak ons gerus of besoek LeerPlein vir notas, hulpbronne en ondersteuning.